Paul Haricombe is die Hoërskool Diazville se nuwe hoof. Foto:


Ná vier en ’n half jaar as waarnemende skoolhoof by die Hoërskool Diazville neem Paul Haricombe amptelik in Januarie 2024 die leisels as nuwe skoolhoof oor.

Haricombe kom al ’n lang pad saam met die skool en het van 2019 as waarnemende skoolhoof gedien ná die uittrede van die oudskoolhoof, Cliffie Vraagom.

Haricombe het sy laerskoolloopbaan by St. Andrews Primêr voltooi en sy hoërskoolloopbaan in 1983 by die Hoërskool Diazville toe die skool sy deure die eerste keer geopen het.

Ná hoërskool het hy by die Universiteit van Wes-Kaapland in die onderwys studeer en in 1994 as onderwyser by die Hoërskool Diazville begin.

Hy is in 1998 tot departementshoof en in 2003 tot adjunkhoof bevorder.

In sy pos as permanente skoolhoof, sê Haricombe, gee die pos hom meer ruimte en geleenthede om amptelik met belangegroepe in gesprek te tree om sodoende projekte en programme te inisieer tot voordeel van die personeel, leerders en ouers.

“My visie vir die skool is om seker te maak dat gehalte-onderrig aan elke leerder gebied word; om elke personeellid die ruimte en geleenthede te bied om ons leerders en skoolgemeenskappe met oorgawe te dien; groter ouerbetrokkenheid te bewerkstellig, sodat ouers insae het in besluite wat hul kinders raak; korporatiewe sakeondernemings te kry om die waarde van ’n goeie opvoedingstelsel te ondersteun en in die skoolgemeenskap te investeer.”

Tydens sy termyn as waarnemende skoolhoof het Haricombe ’n paar hoogtepunte geniet, naamlik die skool se nuwe wetenskaplaboratorium, sy nuwe rekenaarlokaal sowel as vier ekstra mobiele klaskamers. “Baie van ons oudleerders is ook besig om hul drome in verskeie sektore – plaaslik en internasionaal – te verwesenlik en ’n sukses daarvan te maak.”

Haricombe sê die skool streef na uitmuntendheid op alle gebiede. “Met almal se ondersteuning kan ons hierdie ideaal ’n werklikheid maak. Ons doel by die Hoërskool Diazville is om elke leerder blootstelling te gee en al hul talente en gawes te ontwikkel en te ontgin, sodat elke leerder die beste weergawe van hulself kan wees. Dit is sodat ons leerders alle moontlike geleenthede kry om suksesvol te wees en volwaardig in verantwoor­delike landsburgers te ontwikkel.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article