Die nuwemaan springgety is nou op sy hoogtepunt en sal vir die res van hierdie week tot in die komende naweek duur. Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) doen ’n beroep op almal om ingestel te wees op veiligheid.
• Moenie alkohol drink en swem nie.
• Baaiers moet verkieslik by strande swem waar en wanneer lewensredders aan diens is, en tussen die lewensredder se “veiliger swemsone”-vlae bly. Gehoorsaam die lewensredders ter wille van almal se veiligheid.
• Strandbaaiers, kushengelaars en kusstappers moet elke dag bewus wees dat daar twee hoogwater- en twee laagwatergetye by die kus is.
• Wees bewus van sleurstrome wat swemmers see toe kan trek. Tydens volmaan en nuwemaan bring springgety hoër as normale hooggetye en laer as normale laagwater wat sterker as normale sleurstrome kan veroorsaak.
• Swemmers by riviere, mere en damme moet ’n reddingsbaadjie of ’n drywende hulpmiddel vir veiligheid en sigbaarheid dra.
• Moenie dit nie te ver van die strand af waag nie, as jy moeg raak in die water dryf op jou rug en moenie paniekerig raak nie. Vul jou longe met lug om jou te help dryf en bly kalm.
• Ouers en versorgers moet toesien dat verantwoordelike, nugter volwassenes toesig hou oor kinders terwyl hulle swem of wanneer hulle naby water is.
• Dra helder klere (veral kinders by die strand).
• Bootvaarders en roeiers moet hul reddingsbaadjies dra, en altyd die NSRI se gratis SafeTrx-slimfoon-toepassing gebruik wanneer hulle op die water is.
• Weet hoe om jou veiligheidstoerusting te gebruik – ’n skeidsregterfluitjie, rooi noodfakkels en ’n volgelaaide selfoon in ’n waterdigte plastiekomhulsel.
• Hou altyd ’n verantwoordelike familielid of vriend op hoogte van waarheen jy gaan en jou verwagte terugkeertyd.
In ’n noodgeval bel die NSRI-noodsentrum by 087 094 9774.



