Die span van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se Mykonos-stasie by Langebaan het sy bote Sondag (1 Oktober) te water gelaat om ’n kragboot wat onklaar geraak het, na veiligheid te sleep.
Volgens Nic Stevens, die NSRI-stasiebevelvoerder, het hulle om 16:27 hul diensbemanning van Stasie 4 geaktiveer om ’n 25-voet-kragboot met ’n meganiese fout aan die motor op die Langebaan-strandmeer by te staan.
Die NSRI-reddingstuie die Spirit of Vodacom en die Spirit of Rotary East London is te water gelaat en die boot is sonder voorval na die Mykonos-marina gesleep. Geen verdere bystand is benodig nie. Almal was teen 18:00 veilig.




