Kiesers aan die Weskus het klaar hul kruisies getrek om te bepaal wie hulle in die nasionale en provinsiale parlemente vir die volgende ampstermyn gaan verteenwoordig.
Die uitslae van die 2024- nasionale en provinsiale verkiesing word Sondag (2 Junie) bekendgemaak.
Tot dan is dit wag en sien of die DA sy meerderheid kan behou en of die kleiner partye se uiteenlopende verkiesingsveldtogte genoeg steun gewerf het om die DA ná 15 jaar in die Wes-Kaap te ontsetel.
Baie kiesers met wie Weslander by ’n paar stemlokale gesels het nadat hulle gestem het, het die woord “verandering” gebruik.
Johan Geyer van Vredenburg meen dat dinge net kan verander as ’n mens anders stem.
Janice Carolus, wat al die jare op stemdag deel van die span verkiesingsbeamptes was, was bly dat sy Woensdag die eerste keer soos almal rustig kon gaan stem.
Adriana Kuys, wat Maandag ’n spesiale stem by Huis Wittekruin gebring het, het haar nie aan voorverkiesingspraatjies gesteur nie, maar self besluit. “Ek het na niemand anders geluister nie.”
Marshelle en Gregory Abrahams van Vredenburg meen ook dat al manier om verandering teweeg te bring, is om daarvoor te stem.
Die Verkiesingskommissie van Suid-Afrika (OVK) hou ook asem op om te sien of die opkoms van kiesers in vergelyking met vorige jare gestyg of gedaal het.
Gister (Woensdag 29 Mei), op stemdag, was dit teen die tyd wat Weslander drukkers toe moes gaan, steeds rustig by die onderskeie verkiesingslokale in die Weskus.
Lenore Oliver, ’n mediabeampte vir die OVK, het gesê dit is nog vroeg, maar dat sy nie bewus is van enige voorvalle by stemlokale in die Weskus nie. Dit is ook bevestig deur kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik.
Die eerste twee dae waarop kiesers geregtig op spesiale stemme hul kruisies kon trek – Maandag 27 en Dinsdag 28 Mei – het ook glad verloop sover vasgestel kon word.
Die afsnytyd vir besware oor die verkiesing is Vrydag (31 Mei) om 17:00, en Donderdag 6 Junie word die verkiesingsuitslae geproklameer. Die setels in die nasionale en provinsiale parlemente sal dan na gelang van die hoeveelheid stemme aangewys word.





