Nog Noord-Kapenaars is tydens ’n roetinepatrollie by die N7 by die Klawer-weegbrug met gesogte inheemse vetplantjies in hegtenis geneem.
’n Sestienjarige seun van Garies is op Vrydag 12 Mei saam met ander insittendes in ’n Quantum voorgekeer.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, is die passasiers se bagasie deursoek. “’n Polisiebeampte het gesien dié seun versteek iets onder sy baadjie en het ’n 5-liter-plastiekbottel met 5 225 inheemse vetplantjies by hom gekry.”
Die waarde van dié plantjies beloop sowat R11 050.
Die seun is al voorheen weens verskeie oortredings in Garies in hegtenis geneem en verskyn op Dinsdag 6 Junie in die Klawer-landdroshof.
Skaars drie dae later is nog Noord-Kapenaars – dié keer vyf mans van iets in die twintig en dertig – Maandagoggend omstreeks 01:40 ook tydens ’n roetine-patrollie naby dieselfde weegbrug voorgekeer. Met die deursoek van hul voertuig en bagasie is inheemse plante ter waarde van R75 000 gevind.
Die mans sal vandeesweek in die Klawer-landdroshof verskyn.



