Die aanstelling van die nuwe minister van elektrisiteit kom dalk as ’n verligting vir die land, maar intussen maak plaaslike munisipaliteite gebeurlikheidsplanne indien die ergste donker dae kom.
Ná pres. Cyril Ramaphosa se amptelike verklaring van ’n noodtoestand is daar sprake van ’n twee weke lange kragonderbreking.
“Beurtkrag is ’n baie goeie ingenieursproses om ’n totale blackout- situasie te verhoed, soos onlangs in verskillende lande of dele van lande ondervind is. Dit is ’n beheerde manier om met ’n vaste plan te werk om dit te verhoed. Daar word reeds aan beginsels gewerk om dit op nasionale vlak uit te brei tot op vlak 16. Dit sal ook help om toevoer oor die land heen volgens ’n vaste plan weer te kan aanskakel, indien nodig,” verduidelik Ethne Lawrence, woordvoerder van die Saldanhabaai-munisipaliteit.
Hoewel die land vandeesweek op vlak 4-beurtkrag was, het beide die Bergrivier- en die Saldanhabaai-munisipaliteit planne om basiese dienste aan inwoners te verskaf indien hoër vlakke van beurtkrag ingestel word.
Lawrence sê met die beurtkragskedules gaan daar ook ander gebeurlikheidsplanne gepaard. “Hierdie planne spreek die hantering van ander dienste tydens verskillende vlakke van beurtkrag aan.”
Volgens die Bergrivier-munisipaliteit het hy in Junie 2022 reeds aanpassings gemaak om te kyk hoe om rioolwerke, waterverskaffing, konnektiwiteit vir voorafbetaalde elektrisiteit en verkeersdienste te bestuur tydens Eskom se kragonderbrekings.
Kragopwekkers, batterye en ander beurtkrag-bestande toerusting het nou die norm geword. Albei die Weskus-munisipaliteite bevestig kragopwekkers word nou gebruik om veral water- en rioolpompstasies aan die gang te hou.
Adv. Hanelie Linde, munisipale bestuurder in die Bergrivier, het vandeesweek verduidelik die afhanklikheid van kragopwekkers beteken ook astronomiese diesel-rekeninge. “Ons ruwe skattings toon dat kragopwekkers ongeveer 100 F diesel per uur gebruik wat ongeveer R2 500 per uur beloop,” sê sy.
Inwoners is dus gevra om water spaarsamig te gebruik om die druk op die waterstelsel te verlig. Die munisipaliteit beloof waterverskaffing sal plaasvind ongeag die vlak van beurtkrag.
In Saldanhabaai is kragopwekkersn ook op baie kritieke water- en sanitasie infrastruktuur-persele, soos afvalwaterbehandelingsaanlegte en pompstasies, geplaas. “Uitgebreide en langdurige beurtkragperiodes sal ’n invloed hê op dienslewering wat betref water- en sanitasie-infrastruktuur. Versagtingsmaatreëls is in plek, maar uitgebreide beurtkrag-periodes kan steeds lei tot ontwrigting van water- en sanitasiedienste,” verduidelik Lawrence.
Wes-Kaapse munisipaliteite het onlangs verligting gekry van die kragreus se kragonderbreking danksy die provinsiale regering se verligtingsfonds. Twee kragopwekkers is reeds in Januarie deur die Bergrivier-munisipaliteit aangekoop. Onderskeidelik wek die kragopwekkers 550 kWH en 33 kWh op.
Met die kleingeld van R3,6 miljoen beoog die Bergrivier-munisipaliteit om, saam met addisionele geld vanuit vanjaar se aangepaste begroting te verseker die verkeerskantoor en Active Box in Piketberg se ligte bly aan. Kragopwekkers vir Velddrif se pompstasies is ook deel van die toekomstige aankope.
Die Saldanhabaai-munisipaliteit het op sy beurt R2 950 000 van die provinsiale regering gekry. Lawrence sê daar word gekyk om nog noodkragopwekkers aan te skaf en te plaas waar nodig.
Saldanha se buur-munisipaliteit Swartland het R10 945 000 ontvang terwyl die Weskus-distriksmunisipaliteit R1,9 miljoen ontvang het vir beurtkrag-verligting. Die Weskus-streek se ander munisipaliteite, Cederberg (R1,6 miljoen) en Matzikama (R1 050 000), het ook geld vanuit die noodfonds ontvang.
By navraag het die Weskus-gesondheidsdepartement laat weet hulle is gereed vir erger beurtkrag.
By fasiliteite wat gebruik maak van kragopwekkers, word die brandstofvlakke fyn dopgehou en die kragopwekkers goed in stand gehou.
Tien Weskus-klinieke maak reeds gebruik van omsetters (inverters). Danksy die batterye bly Elandsbaai, Graafwater, Riebeek-Wes, Vanrhynsdorp, Wupperthal, Darling, Laingville, Lutzville, Riebeek-Kasteel, Saldanha en die Paternoster-satellietkliniek se deure oop ten spyte van die landwye kragonderbrekings.
Eskom het Maandag aangekondig fase 4 en 5 sal vir die res van die week geld.




