’n Jong man van Darling het sy lewe verloor nadat hy en ’n ander man mekaar met messe aangeval het.

Dwelmgebruik het baie moontlik tot die stryery gelei wat die moord voorafgegaan het.

Volgens sers. Johnatan Filander, ’n woordvoerder van die Darling-polisie, het die polisie vroeg Saterdagaand (8 Oktober) na Orgideestraat 12 gegaan nadat hulle ’n klagte ontvang het. Met die polisie se aankoms het die liggaam van Daniel Esterhuizen (20) met steekwonde buite die betrokke adres se erf op die grond gelê. Die voorval het om ongeveer 18:40 plaasgevind.

’n Ooggetuie het aan die polisie vertel Esterhuizen, wat by die adres gewoon het, en ’n ander man het by mekaar gesit en saam ’n Mandrax-pyp gerook voordat ’n stryery ontstaan en die twee mans mekaar met messe bygekom het.

Die ander man het ná die aanval weggehardloop en Esterhuizen het op die toneel aan sy wonde beswyk.

Volgens Filander is die verdagte Sondag opgespoor en in hegtenis geneem. Die verdagte is ook beseer en het ’n messteekwond aan sy gesig gehad. Hy is hospitaal toe geneem en sal na verwagting Dinsdag (11 Oktober) in die Darling-landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article