Elowayne Gouws, ’n paramedikus en stigter van West Coast Medical Rescue.


Die nooddienste is ’n belangrike en besonderse bedryf om in te werk en dus hetWeslanderter viering van nasionale Nood-medici-dag (17 Oktober) met Elowayne Gouws gesels om meer oor dié afdeling van medici te leer.

Gouws (30) is aan die stuur van West Coast Medical Rescue. Hy het hierdie diens aan die Weskus verlede jaar gestig.

“Ek wou van jongs af al deel van die nooddienste word omdat ek ’n passie het om mense te help. Iets wat ek nie van my beroep besef het voor ek begin werk het nie, is hoe aansteeklik dit is. Hoe meer mense jy help, hoe meer wil jy help,” verduidelik Gouws.

“Dit was die hoogtepunt van my loopbaan toe ek my passie op ’n groter manier kon versprei danksy hierdie ambulansdiens in die Weskus te stig. Dit was nog altyd ’n droom om my eie ambulansdiens te hê en so aan die gemeenskap terug te gee en ook om ’n gaping te vul waar soveel hulp benodig word.”

Vir baie pasiënte is Gouws en sy kollegas die eerste mense wat hulle in ’n noodgeval sien.

Noodwerkers se werk kan uitdagend en emosioneel uitmergelend wees. Gouws sê dit is waarom dit belangrik is vir paramedici om gesond te bly.

“Emosie speel ’n groot rol in ons daaglikse lewe. Wanneer ons as paramedici op ’n toneel is waar daar hartseer is, het die publiek dikwels die siening dat ons nie emosioneel geraak word nie. Ons word ook emosioneel; ons is ook mense.

“Baie paramedici ly aan post-traumatiese stres-versteuring (PTSD) of depressie. Jy as mediese praktisyn moet in moeilike omstandighede altyd sterk staan. Die werk kan ook baie fisiek raak en dit is dus belangrik om fiks en gesond te wees,” maan hy.

Om as paramedici te werk, is egter nie net hartseer nie.

“ ’n Algemene werksdag vir ons in die nooddienste kan party dae beteken jy doen niks, maar ander dae kan jy van die een noodgeval na die ander jaag tot jou skof verby is. Dit is wat die nooddienste so lekker maak, want geen dag is dieselfde nie.”

Gouws meen enigeen wat daaraan dink om ’n beroep in die nooddienste na te streef, moet weet hulle sal hard moet werk. “So iemand moet ’n paar eienskappe hê om in die nooddienste te kan werk. Die belangrikste is om tydens ’n noodgeval en hartseer jou kalmte te behou en professionaliteit teenoor die pasiënt en familie te toon. Jou kennis en behandeling móét akkuraat wees aangesien jy met iemand se lewe werk.”

Sy raad aan jongmense is om hard te leer en gereed te maak vir die uitdagings van die beroep, want “daar is nie room for error nie.”

Om van sy werk af te skakel, is vir Gouws belangrik en hy ontspan veral met sy gesin wanneer hy nie aan diens is nie. “Ek geniet dit ook om af en toe vis te vang,” bieg hy.

Hy wil graag verder in nooddienste studeer en uiteindelik daarin spesialiseer.. Dr. Nomafrench Mbombo, die Wes-Kaapse minister van gesondheid, het Dinsdag gesê Nood-medici-dag gaan oor samesyn. Sy sê noodpersoneel moet dikwels die “onmoontlike” doen, terwyl sommige medici selfs deur mense in die gemeenskap aangeval word wanneer hulle probeer help.

“Ons doen ’n beroep op die hele samelewing en die regering om ons te help om ons personeel in die voorste linie te beskerm,” het Mbombo gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article