Nonnie Geldenhuys van Hopefield het haarself opgeoffer toe iemand huis toe moes gaan sodat haar twee spanmaats kon voortgaan met die speletjie.


Op dag 10 van die werklikheidsprogram Die Brug het drie deelnemers ’n moeilike besluit in die oë gestaar.

Nonnie Geldenhuys (56), ’n mede-eienaar van die Hopefield-padstal, het haarself opgeoffer om haar twee mede-deelnemers die geleentheid te gee om hul reis in die spel te voltooi – dít nadat die nuwe leier van die groep, Sam Marais, besluit het om Iana Strydom, Tina Linder en Nonnie op ’n staptog te stuur om antwoorde te vind. By hul aankoms by hul stoppunt moes die vroue ’n groot besluit neem oor wie dadelik die speletjie moet verlaat.

Soos Nonnie aan Weslander verduidelik het, was sy baie opgewonde oor die stappie. “Met die aankoms was daar ’n kassie met ’n paar heerlike piekniek-items in, maar daarmee saam ’n briefie wat gesê het een van ons moet die spel onmiddellik verlaat. My hart het in my stewels gesink. Ek kon my hartklop in my keel voel. Ons het die briefie drie keer deurgelees om tyd te wen om ons gedagtes in plek te kry asook om oor die skok te kom.”

Nonnie se hart vir haar medemense het oor haar lippe gekom met die woorde “I’ll sacrifice”. “My hart was stukkend, want ek wou ook so graag deel van die finale vlotbou gewees het. My droom was in skerwe, maar my hart het twee paar ontnugterde oë voor my raakgesien. Ek het die begeerte in hulle ook gesien om daar te wees en ek het besluit ek gaan terugstaan.”

Nonnie het reg aan die begin van die program in kykers se harte ingeklim met haar saggeaarde en omgee-persoonlikheid.

Die Brug vereis 12 deelnemers om met hul kaal hande ’n brug tot by ’n eiland te bou om by die prysgeld van R1 miljoen te kom en te wen.

Hoogtepunte vir Nonnie was die eerste dag en ontmoeting van almal. “Dit was ’n klomp besonder unieke, sterk individue – en die ruimte wat elkeen mekaar gegun het om te wees wie hy/sy is, die natuurskoon, stilte, water, sonsopkoms, die wind tussen die bome was prentjie mooi.”

Haar vriendskap met Larry was ook baie spesiaal vir haar.

Met haar deelname aan Die Brug sê Nonnie sy het baie lesse geleer.

“Een van die dinge wat ek geleer het, is dat jy op ’n gereelde basis vir jou familie, vriende en mense moet wys jy gee om of jy is lief vir hulle. Die lewe is kort en jy weet nooit wanneer jy hulle moet groet nie.

“Ek het nie geweet die dag van my staptog gaan my droom in skerwe lê en ek nie weer my spanlede gaan sien nie. Dit was nie lekker nie. [Ek] kon hulle nie bemoedig nie, hulle op-druk van liefde nie of gou nog ietsie vir hulle doen nie. My tyd was net om.

“So, maak tyd vir mekaar – vir ’n laggie, vir ’n geselsie, vir ’n koffie, vir ’n kuier. ’n Mens kan met min baie doen.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article