Na aanleiding van Weslanderse berig “Nuwe regulasies oor vervalle huise” op 25 Mei vanjaar oor verskeie probleemgeboue in Vredenburg en Saldanha, het lesers nog geboue aangedui wat in hul onderskeie buurte stoornisse is.
Van die eiendomme waaroor gekla word, is onder meer ’n onbewoonde huis langs ’n oop veld in die middel van Vredenburg, ’n ou hostel in Yskor, Louwville, en ’n onbewoonde huis in Kameeldoringstraat, Vredenburg, waarvan die eienaar glo tans in hegtenis is.
Wat al die probleemeiendomme in gemeen het, is dat rondlopers en dwelmhandelaars by sulke geboue ’n oorlas van hulself maak vir al die ander wat in die buurt woon.
Met nuutgepromulgeerde munisipale verordeninge wat spesifiek betrekking het op probleemgeboue, het die Saldanhabaai-munisipaliteit aangedui dat sy wetstoepassingsafdeling besig is met ’n opname om al die problematiese geboue in die munisipale gebied te identifiseer.
Ethne Lawrence, die kommunikasiebeampte van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM), het vandeesweek benadruk dat dié opname steeds aandag geniet en dat met verskeie rolspelers saamgewerk word.
“Sodra die proses afgehandel is, sal individuele sake ingevolge die betrokke munisipale verordening aandag geniet.”
Lawrence het onderneem dat die wetstoepassingsafdeling die nuutuitgeligte persele saam met die polisie sal ondersoek. “Indien die behoefte ontstaan om op te tree, sal die wetstoepassingsagentskappe dienooreenkomstig optree.”
Probleemeiendomme word ingevolge die verordening insake probleempersele 2022geklassifiseer as onder meer onooglike, aanstootlike, oorbewoonde en onwettig bewoonde geboue wat deur die eienaars verlaat is.
Die SBM sal stappe teen die eienaars van hierdie probleemgeboue oorweeg en ook inligting oor die betrokke eiendomme beskikbaar stel, sodra die opname gefinaliseer is.
Lawrence moedig die publiek aan om alle problematiese geboue of persele aan te meld by die SBM se wetstoepassingsafdeling by 022 701 6912.




