Selfs indien Karpowership SA elektrisiteit met sy beplande kragprojek in Saldanhabaai opwek, sal die elektrisiteit nie aan Eskom se kragnetwerk gekoppel word nie.
Dit is die jongste terugslag vir die omstrede Turkse Karpowership, wat planne het om elektrisiteit in Coega (450 MW-kapasiteit), Richardsbaai (450 MW-kapasiteit) en Saldanha (320 MW-kapasiteit) deur middel van gas op te wek.
Karpowership SA se projekte was deel van die altesaam 11 suksesvolle projekte wat in 2021 deel van die Risikobeperking vir onafhanklike kragprodusente-verkrygingsprogram was om die voortslepende kragkrisis die hoof te bied.
Die departement van minerale hulpbronne en energie het die program van stapel gestuur met die idee om altesaam 2 000 MW noodkrag by die kragnetwerk te voeg.
Eskom het egter vandeesmaand aangekondig hy gaan nie meer transmissievermoë vir die noodkrag-verskaffers reserveer nie nadat hulle nie die spertyd – 31 Desember 2023 – gehaal het om hul finansiële reëlings te tref nie.
Luidens ’n verklaring het Eskom verduidelik dié Desember-spertyd was reeds verleng en geen verdere vergunning sal gebied word nie.
Die transmissievermoë sal nou aan ander projekte toegeken kan word en beteken onder meer Karpowership SA en die ander tenderaars wat nie betyds die finansiële vereistes nagekom het nie, sal nie toegang tot die kragnetwerk hê nie.




