’n Bekende in die stock cars-kringe in die Weskus, Jose Fernando Casmetre (77), bekend as Jose Camacho, se lewelose liggaam is Woensdag 1 Mei – op sy verjaarsdag – langs sy huis op die Plaas Eenzaamheid, gedeelte 37, gekry.
Die polisie vermoed die motief vir die moord was roof, want sy skape is gesteel. Daar was vermoedelik ook vuurwapens in die huis, maar dit moet nog bevestig word.
Camacho se kleinhoewe is in die gebied oorkant die Vredenburg-gholfbaan, om die draai van die plaas waarop Clint Christians (57) op Saterdag 13 April gewelddadig vermoor is.
Volgens Dirk Gallowitz, ’n buurman en deel van die gebied se plaaswag, het twee ander buurmanne die middag net ná 13:00 gaan kyk wat aangaan omdat Camacho nie sy selfoon geantwoord het nie. Hulle het op sy lyk langs sy huis afgekom.
Kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisie, het gesê die buurmanne het om die huis geloop en Camacho sowat tien treë van die huis gesien lê. Hulle het onmiddellik die polisie gebel.
Camacho is in die rug gesteek en hy het wonde aan sy kop gehad. Christians is ook doodgesteek.
Met Gallowitz se besoek aan die kleinhoewe omstreeks 18:00 Woensdagaand 1 Mei was die polisie se forensiese ondersoekeenheid steeds besig om die huis vir leidrade te fynkam.
Enigiemand met inligting word versoek om met speursers. Ronaldo Joubert in verbinding te tree by op 079 894 1263.
Lees die volledige berig in volgende week se Weslander op Donderdag 8 Mei.





