Vlamme Maandagaand by die Laaiplek-aanleg van Amawandle Pelagic. Foto: WhatsApp


Dit was ’n slag in die nag en toe vlamme.

Inwoners in Laaiplek het Maandagaand ná beurtkrag ’n slag gehoor en toe vlamme gesien toe die tweede brand vanjaar by Amawandle Pelagic se aanleg in Laaiplek uitgebreek het.

Brandweerbeamptes, van die visfabriek en die munisipaliteit, het vinnig ingespring om die vlamme te blus.

Vandeesweek se brand kom ná ’n brand in Februarie by dieselfde aanleg.

Volgens Tiana Fataar, ’n woordvoerder vir die Oceana-groep, is die oorsaak van die brand nog nie bekend nie en bedrywighede by die aanleg was teen Dinsdagmiddag weer operasioneel.

“Die veiligheid van ons werknemers is ons topprioriteit, en daarom word gereelde instandhouding gedoen, veiligheidsopleiding ook, en het ons streng standaard-bedryfsprosedures in plek.

“Ons ondersoek elke voorval. Indien die ondersoek aandui dat enige opleiding of bedryfsprosedures hersien moet word of bykomende opleiding uitgevoer moet word, sal dit as ’n kwessie van prioriteit gedoen word,” het sy verduidelik.

Niemand is in enige van die brande beseer nie.

’n Werker is Sondag 23 April hospitaal toe ná ’n vismeel-droër onklaar geraak het (“Vismeel-droër beseer man”, Weslander, 27 April 2023). Fataar het toe gesê ’n ondersoek na die voorval sou van stapel gestuur word.

Inwoners meen dit is heel moontlik beurtkrag wat ’n rol gespeel het in Maandag se brand, maar die maatskappy het hulle nie uitgelaat oor dié moontlikheid nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article