Nóg ’n aansoek om verkenningsboorwerk vir olie- en gas-soektogte in die Atlantiese Oseaan wes van die Weskus te doen, is onlangs bekendgemaak. Dié keer is dit TotalEnergies (Teepsa) wat nog ’n aansoek doen.

Weslander het verlede jaar berig oor Shell se aansoek (“Sê oor Shell se boor langs Weskus”, 5 Desember 2024). Die gebied waar Teepsa wil boor, lê oos van die gebied waar Shell wil boor. Volgens die SLR Consulting-omgewingsevalu­eringsprak­tisyns, wat die omgewingsmag­tigingsprosesse van albei maatskappye waarneem, het Teepsa reeds in 2023 magtiging ontvang vir olie- en gas-soektogte in die noordelike deel van die lisensieblok, die “Deep Water Orange Basin”, wat ongeveer 211 km van Saldanhabaai af geleë is.

Teepsa wil nou vir olie en gas soek in ’n nuwe verkenningsgebied in die suidelike deel van dié lisensieblok van 15 000 vierkante kilometer. Teepsa wil sewe beoordelingsputte boor om vas te stel of daar olie en gas is, insluitend vertikale seismiese profilering om die boorgate te ontleed en te toets.

In albei gevalle word die versekering gegee dat die verkenningsboorgate ná die tyd deeglik verseël gaan word.

SLR het voorheen verduidelik dat walvisse soos lang- en kortvin-loodwalvisse, spermwalvisse, boggelrug­walvisse, sei-walvisse, vin-walvisse en dolfyne deur die voorgestelde projekgebiede in die geïdentifiseerde kritieke biodiverse gebied in die Benguela­stroom-mariene-ekostelsel beweeg.

kan visbronne versteur

Makrofauna soos bentiese garnale en krappe, ’n belangrike voedselbron vir kommersieel waardevolle visspesies in die voorgestelde projekgebied, kan versteur word. Dit kan ook variëteite van hondevisse, kathaaie, drilvisse, vals-doringrug-rog, chimaera, groot trekspesies soos verskeie tuna, snawelvisse en pelagiese haaie nadelig beïnvloed.

Volgens Natural Justice kan booraktiwiteite, geraas­vrystellings en roetine-storting in die see die see­bodem versteur, habitatte verander, onderwatergeraas skep en indringerspesies inbring, wat die seelewe kan versteur. Die onderwatergeraas kan ook lei tot beserings (permanent of tydelik), steurings en gedragsveranderings.

impakstudie

Die voorgestelde aktiwiteite kan ook kommersiële en plaaslike visvangaktiwiteite nadelig beïnvloed as gevolg van veranderings in visgedrag, vermindering in vangkoerse en ’n potensiële toename in visvangpogings.

Die verwagting is dat visvangbedrywighede vir tuna en haaispesies binne en om die voorgestelde gebied beïnvloed sal word.

Om toestemming by die departement van minerale hulpbronne en energie te verkry, moet omgewingsmagtiging verkry word ingevolge die Omgewingsimpakbepalingsregu­lasies van 2014. As deel van hierdie proses moet ’n omgewingsimpakstudie voltooi word.

Weskussers het die afgelope week in verskillende dorpe die geleentheid gehad om met SLR- en Teepsa-personeel te gesels en ’n oorsig te kry oor die projekvoorstel.

SLR se konsep-omvangbepalingsverslag is vir die publiek beskikbaar. Laai ’n volledige kopie van die verslag sowel as ’n nie-tegniese opsomming af by slrconsulting.com/afr/public-documents/teepsa-dwobsouth/

Indien jy wil kommentaar lewer oor enige aspek van die voorgestelde projek en die potensiële impakte wat geïdentifiseer is, registreer en dien jou kommentaar vóór Woensdag 19 Februarie by teepsa-dwobsouth@ slrconsulting.com in of stuur ’n WhatsApp-boodskap na 078 226 0801.

’n Openbare aanlyn vergadering vir geregistreerdes vind op Dinsdag 18 Februarie plaas. Gaan na https://forms.microsoft.com/e/zET75r1i22 om ook vir die vergadering te registreer vóór Sondag 16 Februarie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article