Die koperkabels wat in die besit van ’n man van Darling gevind is.Foto:


Die 25 polisiekantore aan die Weskus wend deurlopend ’n daadwerklike poging aan om kabeldiefstal hok te slaan en kabeldiewe voor die gereg te bring.

Hierdie soort misdaad is besig om skerp toe te neem en veroorsaak groot finansiële skade en die ontwrigting van noodsaaklike internet-dienslewering.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder in die Weskus-distrik, is nog drie vermeende kabeldiewe Vrydagoggend 11 November in onderskeidelik die Lutzville-omgewing en in Darling in hegtenis geneem nadat vermoedelik gesteelde koperkabels in hul besit gevind is.

Die eerste inhegtenisneming het in die donker oggendure plaasgevind nadat inligting ontvang is oor ’n verdagte voertuig wat op die MSR-Weskuspad naby Lutzville ry.

Die Lutzville-polisie en plaaslike plaaswag het die voertuig gevolg en tot stilstand gedwing.

In die voertuig is 329 kg vermoedelik gesteelde koperkabels met ’n waarde van R107 069 gevind.

Twee mans van Milnerton, 26 en 23 jaar oud, is in hegtenis geneem. Hulle het Maandag 14 November in die Vredendal-landdroshof verskyn.

Nóg ’n vermeende kabeldief is later dieselfde oggend in Darling in hegtenis geneem nadat iemand die polisie in kennis gestel het dat ’n verdagte met kabels rondloop.

Die polisie het gaan ondersoek instel en die man met die kabels betrap.

Die verdagte, wat reeds ’n misdaadrekord het, kon nie verduidelik waar hy die kabels gekry het nie.

Hy is aangekeer en het Maandag in die Darling-landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article