Marinda Engelbrecht van Marinda Kook-faam se ma het graag ertjies en geelrys bedien. Probeer gerus dié basiese resep.
Marinda se bobotie
Bestanddele:
- 2 uie fyn gesny
- 15 ml olie om die uie in te braai
- 2 snye brood
- 100 ml melk
- sout en peper na smaak
- 80 ml appelkooskonfyt
- 40 ml kerriepoeier
- 15 ml borrie
- 5 ml fyn komyn (opsioneel)
- 30 ml asyn
- 3 suurlemoen of lourierblare
- 1 kg beesmaalvleis
- Vir die bolaag:
- 1 eier geklits in 60 ml melk
Metode:
1. Sit die brood in ‘n diep bord en gooi die 100 ml melk oor die brood;
2. Braai die uie tot glaserig in ‘n bietjie olie op die stoof;
3. Gooi die res van die bestanddele in ‘n mengbak en meng deeglik deur;
4. Druk die melk uit die brood en meng saam met jou uie by die vleismengsel;
5. Skep dit in ‘n gesmeerde oondbak;
6. Meng jou bolaag (een geklitste eier en die 60 ml melk) en gooi dit oor jou vleis in die oondbak;
7. Sit die suurlemoenblare bo-op alles;
8. Bak vir 60 min by 190 ºC en bedien met rys en groente.
Hierdie basiese resep is altyd ‘n wenner en jy kan ses tot agt mense hiermee onthaal.
Bron: Marinda Kook


