“More sal die son weer skyn, miswolke sal dan verdwyn . . .”

Dít is die lirieke van ’n Afrikaanse gospelliedjie wat op hierdie mistroostige, nat en koue Maandagoggend in my kop maal. Spatseltjies van die lenteseisoen het vroeër die maand sy verskyning gemaak en dit was maar al. Die ongekende super lang winter wat ons tans ervaar, is nou maar een maal ’n verskynsel waaraan die psige net nie gewoond kan of wil raak nie. Die gietende reën en gepaardgaande oorstromings – en ander skades – bring herinneringe van nie-so-lank-gelede-nie terug. Dié keer is dit asof ’n mens die intensiteit van die koue en nat erger beleef.

Vroeër dié maand het iemand iewers weer te laat tot die besef gekom dat daar erge tegniese probleme met die uitbetaling van derduisende Suid-Afrikaners se maandelikse staatstoelaes is. My hart wou breek, want vir miljoene Suid-Afrikaners is dit die enigste bron van inkomste om die maand te oorleef. Ek kon myself nie indink waardeur ons senior burgers (die wat steeds sit en wag vir hul karige pensioengeldjie) moet gaan nie. En ek sien die antie op nasionale nuus wat pleit dat iemand iets moet doen, want sy is honger. Sy moet nou maar noodgedwonge kos by haar bure of familielede gaan bedel, want daar is niks in haar huis om vir die kinders te gee nie.

In die dorpie waar ek woon, sien ek hoe drie bejaarde vroue moedig hul staptog aanpak na die kerk waar kos vir behoeftiges uitgedeel word. Dis die plastieksakkie en die botterbakkie wat ’n swarigheid op my gees los. Dit wat ek alreeds van bewus is, word opnuut weer bevestig – ons mense kry regtigwaar swaar. As ek dit nie met my eie oë gesien het nie, was dit ’n ander saak, maar hier sien en beleef ek dit eerstehands. Ja, ons mag die redes en omvang van die swaarkry intellektueel probeer analiseer en verifieer. Die punt is – ons mense kry swaar. Dit wat in ons land op ’n makro- sowel as mikro-vlak plaasvind, dra direk hiertoe by (het ek nodig om die legio uitdagings op te noem?).

Deesdae hoef ons nie meer ver te gaan soek na die gesig van swaarkry nie. Dis oral sigbaar. Net voordat dit egter klink asof ek in ’n staat van absolute swartgalligheid wil verval, is dit vir my absoluut noodsaaklik om die volgende feite duidelik te beklemtoon. Dis vir my eerstens nodig om die werklikheid van ons huidige situasie te verwoord. Tweedens poog ek nie om ’n gees van pessimisme aan te wakker nie. Ek was en sal altyd ’n voorstander wees van ’n hoopvolle en positiewe uitkyk op die lewe; hoe donker die omstandighede rondom ons blyk te wees. Hiermee saam moet ek erken dat dit deesdae ’n konstante uitdaging word om te gaan soek vir die lig en lewe midde-in die donker tye waarin ons onsself bevind.

Dis egter my dapper keuse om te kies vir die lig en die lewe. Dit is en bly nog my onverskrokke geloof dat meer goed as sleg in hierdie wêreld van ons bestaan en dat ons die mag het om deur ons aksies daardie lig en lewe met andere te deel. Ek is bevoorreg om nog daar te kan wees vir my bejaarde ouers, wat soos baie van ons ook maar swaartrek. Hulle sal altyd die hoogste op my prioriteitslysie wees as ek iewers moet hand uitreik en begin help waar ek kan. Ek is deesdae, meer as ooit tevore, daarop ingestel om ’n helpende hand te verleen waar ek kan. Ek wens ek kan meer doen. Een ding weet ek wel, en dit is dat aardse engele bestaan wat, soos ekself, graag wil help om die aardse nood wat ons medemens beleef, te verlig.

Natuurlik kan ons nie alles vir almal wees nie, maar ons kan wel iets vir iemand beteken. En as elkeen van ons net daardie iets vir iemand kan beteken, kan jy jouself dan net indink watter groot verskil dit reeds sal en kan maak? En as die graad van swaarkry in ons land verdiep, wil ek my verstout om te sê ons as Suid-Afrikaners sal nog ’n keer saamstaan om lig en lewe te bring waar die koue hand van omstandighede dreig om die oorhand te kry. En terwyl die reën gietend neerdaal en daarmee saam ook ’n spoor van verwoesting laat, troos ek my dat daar genoegsame welwillendheid sal wees om ’n dak wat lek, weer heel te maak; dat daar genoegsame komberse sal wees om dié wat weerloos gelaat is, weer op die been te help kry; dat daar genoeg voorraad sal wees om ’n warm pot sop of kos vir die armstes van die armes voor te sit.

Ek weier dat my hart en hand gesluit sal bly vir die nood van my medemens. Daar is nie ’n manier hoe ek net op my eilandjie kan bestaan en net vir myself kan leef nie.

Ek glo die meeste van ons deel hierdie sentiment – dat ons saam sal weier dat ons mede Suid-Afrikaners deur swaarkry moet omkom.

“Môre sal die son weer skyn, miswolke sal dan verdwyn . . .”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article