Maak gereed, Weskus – die Netbal-wêreldbekertrofee sal op 6 en 7 Julie hier ’n draai kom maak.
Danksy die Weskus-netbalfederasie, in samewerking met die departement van kultuursake en sport, die Weskus-distriksmunisipaliteit, die staat se kommunikasiediens GCIS, die Saldanhabaai-munisipaliteit en die Swartland-gemeenskapsentrum (SCORE) in Malmesbury, sal die trofee ’n Weskus-draai kom maak.
Malmesbury se ondernemings, netbal-liefhebbers en belangstellendes sal Donderdag 6 Julie die geleentheid hê om die trofee van naderby te beskou wanneer dit omstreeks 16:00 in die Hoofweg by SPAR sal aankom.
Belangstellendes sal ook die geleentheid kry om foto’s te neem. Die amptelike verrigtinge sal om 17:00 by die Swartland-gemeenskapsentrum plaasvind.
Kuslangs kan netbal-ondersteuners regmaak vir ’n ongelooflike toer in Vredenburg op 7 Julie. Alle ondernemings en gemeenskapslede word hartlik genooi om die toer met hul Suid-Afrikaanse vlae te ondersteun.
Die program vir die trofee-besoek is:
Donderdag 6 Julie:. 16:00 via Voortrekkerstraat na SPAR Malmesbury. 17:00 Swartland-gemeenskapsentrum (SCORE). 19:00 Deurry in Hopefield-middedorp
Vrydag 7 Julie
. 09:00 Vredenburg – Hoofweg, Transnet Genesis Hub (verskeie strate in Vredenburg). 10:30 – Weskus Mall; amptelike verrigtinge met minister Anroux Marais asook nog ’n fotosessie.
Kom ondersteun die Wêreldbeker-netbal-geesvang met unieke kleredrag, vlaggies, ondersteunershemde ens.
Dit is ’n groot geleentheid in die Weskus en iets wat niemand moet misloop nie.



