’n Deel van die reddingspan wat die beseerde Chase Reinford van Amerika berg-af gedra het, is (van links) Raphael Shaw (wit veiligheidshelm), Richard Dellbridge (swart mus), Pieter Burger (swart pet) en Werner Badenhorst (swart veiligheidshelm).Foto: Dwayne Evans


’n Professionele waaghals-springer (BASE jumper) van Amerika is verlede week naby Vanrhynsdorp beseer toe die toue van sy valskerm verstrengel geraak het, hy die kranse getref en na benede getuimel het.

Chase Reinford (29), oorspronklik van Philadelphia, Pennsilvanië, is in ’n reuse-deurnagredding van die krans laat sak en oor rowwe terrein gedra na ’n helikopter wat hom na die hospitaal vervoer het.

Dié waaghalsige sportman en opwindingsoeker het miljoene aanhangers wêreldwyd.

Hy deel gedurig video’s en foto’s van sy uiterste avontu­re en spronge op sosiale media en sy YouTube-kanaal, “Adrenaline.Addiction”.

Reinford het aan Weslander gesê ’n paar faktore het verlede Donderdag (12 April) tot die ongeluk bygedra. 

“Die windtoestande was minder as ideaal en die valskerm se tou was gedraai toe ek dit oopmaak.”

Chase Reinford (29).Foto: Adrenaline.Addiction

Chase Reinford van die VSA het in die rondte getol en die rotswand getref voordat hy tot by die voet van die 150 m hoë krans aan die kant van die Maskamberg (Gifberg) getuimel het.

Dit was Woens­dagmiddag laat.

Sy vriende, Franz Steinbach en Antione Prépuce, wat die week saam met hom gespring het, het hulp ontbied.

Volgens David Nel, ’n Wilderness Search and Rescue (WSAR)-woordvoerder, het die Wes-Kaapse EMS-ambulansdienste ’n reddingspan bestaande uit lede van WSAR, die lugvaart-reddingskoördineringsentrum en vrywilligers gekoördineer. Hulle het Reinford behandel en in ’n reddingsdraagbaar geplaas nadat hulle twee ure lank oor 3 km rowwe terrein geklim en geklouter het om omstreeks 01:30 by hom uit te kom. Die span het ten spyte van die donker sewe ure lank onverpoosd gewerk om hom eers teen die krans te laat afsak en daarna teen die berg tot by ’n plaaspad af te dra.

Ongunstige weer het veroorsaak dat Reinford eers Vrydag met ’n Netcare 911- mediese helikopter na ’n Kaapse hospitaal gevlieg is.

Volgens Reinford is dit die eerste keer in sewe jaar dat hy van sy baie BASE-spronge beseer is. BASE is ’n akroniem vir vier kategorieë van vaste voorwerpe waar waaghals-springers afspring: geboue, radiomaste, brûe en kranse.

Springers gebruik valskerms of eekhoring-vliegpakke om veilig grond toe te sweef.

Chase Reinford in sy eekhoring-vliegpak. In die agtergrond is ’n vriend met ’n valskerm.Foto: Adrenaline.Addiction

Reinford was teen druktyd steeds in die hospitaal met veelvuldige breuke, maar het laat weet dit goed gaan met hom.

Nel het die reddingspan se toewyding geprys en al die redders bedank vir hul toewyding en passie.

Hy moedig lesers aan om die WSAR-noodkontaknommer, 021 937 0300, te bewaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article