Claire Coetzee, ’n naeltegnikus en die eienaar van Oh My Nails.


Sy gee die Here al die eer vir wat sy sover in haar lewe bereik het, sê Claire Coetzee (24).

Dié naeltegnikus, ’n inwoner van Saldanha, het op ’n jong ouderdom ’n groot passie en liefde vir naels gehad, wat sy vandag nog met ander deel.

Alles het in die voorhuis van haar ouerhuis begin, waar sy haar dienste aan die gemeenskap gelewer het.

“My ouers het my gehelp om ’n paar naelbenodigdhede te koop. Dit was nie baie nie, maar dit het my nie gekeer of om my droom prys te gee nie,” sê Claire.

Ná ’n kragtige profetiese woord oor haar lewe en blink toekoms deur haar geestelike mentor het Claire besluit sy gaan haar alles gee; haarself oorgee aan haar geloof en hard werk om haar droom te bewaarheid.

Claire het haarself meer oor die kuns van naels geleer en ervaring opgedoen by onder meer ’n naelsalon met die naam The Nail & Beauty Company in Langebaan. Sy het ook oor gel- en akrielprodukte geleer en hoe om dit aan te wend. “Om te sien hoe mense met verskeie kleurvolle ontwerpe en prentjies kom, het my altyd uitgedaag en ek kon myself eenvoudig net uitleef.”

Die toewyding wat sy vir omtrent drie jaar ingesit het, het Claire die nodige ervaring en sakekennis gegee wat sy in haar eie onderneming kon instoot.

Claire het haar onderneming, Oh My Nails, midde-in die covid-pandemie in Desember 2020 begin en sê dit was net geloof. Sy is nou die trotse eienaar van haar tweede tak in Saldanha, wat sy vroeër vanjaar geopen het.

Sy bied verskeie behandelings soos gel en rubberbasisnaels aan en beplan om binnekort nog meer behandelings te inkorporeer en sodoende haar onderneming uit te brei.

“Ek fokus nou net op naels, maar doen ook wenkbroue en waks. Ek wil ook uitbrei na massering met die hulp van die Here.

“Elke dag het sy uitdagings, maar om elke dag ’n glimlag op my kliënte se gesigte te sien, is gewis vir my ’n hoogtepunt.”

Om haar kennis en liefde vir haar passie met haar werknemers te deel, is vir Claire ook belangrik; ook met ander mense wat dié bedryf wil aandurf.

“Moenie dat vrees jou agterhou nie; glo in God en in jouself.”

Claire gee erkenning aan haar man, Roberto Coetzee, haar ouers, Lesley en Rochelle Welman, haar vriendinne Donia Mangiagalli en Carol-Ann Smit, asook haar geestelike mentors, apostel Shane Samuels en profetes Gunaida Samuels, vir al hul ondersteuning.

Sy skryf haar sukses toe aan haar geloof in God en dat niks onmoontlik is nie. Sy glo die Here het vir haar deure geopen en sê Hy is die rede dat sy vandag is waar sy is.

Naelwenke wat Claire graag met haar kliënte deel en wat sy ook met lesers wil deel:
. Gebruik ’n goeie kutikula-olie wat in die oggend en ook in die aand aangewend kan word, wat dooie vel om die naels sal verhoed.. Gebruik naelversterking om die nael teen sterk chemikalieë te beskerm.. Hou jou naels mooi skoon deur ’n naelborsel te gebruik.

Kontak Claire gerus by 066 272 4620.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article