Nadine tussen die gaste by Boesmanland Plaaskombuis dié naweek.Foto’s: Alida Buckle


Sonder om ’n woord oor te slaan, staan sy grasieus van haar knieë af op en hou aan sing terwyl almal in die gehoor hulle net kan indink hóé seer haar twee knieknoppe moes wees.

Die gewilde sangeres Nadine het by haar vertoning die naweek in Langebaan energiek draaitjies tussen die sowat 235 gaste gemaak waar sy kort-kort van die verhoog af en terug moes afstap. Sy wou nog ’n slag by die hoë trappie by die verhoog op, toe staan sy op haar knieë.

Maar Nadine, wat Saterdag 12 Augustus ten bate van Saldanha Animal Care (SAC) by Boesmanland Plaaskombuis opgetree het, het haar nie van stryk laat bring nie. Sy het ná die struikeling net haar bos krulhare agtertoe gegooi en glimlaggend aanhou sing.

Nog meer indrukwekkend was egter haar geduldige houding jeens haar klankman en die personeel van die restaurant met die krag wat telkemale tydens die eerste deel van haar vertoning afgegaan het. Die kragtoevoer was te laag om haar klanktoerusting én die kombuis se elektriese toebehore gelyktydig te dra.

Die gaste, onder wie Johan Stemmet van Noot-vir-Noot-faam en die burgemeesterspaar André en Sheena Truter, het toe maar eers tougestaan vir hul heerlike boereontbyt – roereier, wors en plaasbrood – voordat die vertoning voortgegaan het.

Die wag was egter die moeite werd, want Nadine het soos ’n opbeurende lentebloeisel in haar helder blommetop en blinkertjie-denim die gaste behoorlik laat saam sing en saam wikkel.

Tannie Rita Nel van Velddrif het ook ’n emosionele oomblik met die sangeres gedeel, wat albei ooglopend effe tranerig gelaat het.

Nadine het haar gou weer reggeruk met ’n grappie oor hoe sý lyk as sy rêrig huil.

Die skeutjies Darling Cellars-jenewer wat aan gaste gebied is om te proe, het ook gehelp dat die geselligheid nuwe energie kry.

Ná afloop van haar vertoning het Nadine, wat self lief is vir honde, gesê sekere mense pas by sekere honde – nes mense. Sy het spottenderwys gesê mense wat nie van ’n ras soos pitbulls hou nie, moet liewer vir hulle ’n budgie kry. Op ’n ernstiger noot het sy benadruk dat honde se persoonlikhede deur hul eienaars gevorm word. “Dis die eienaar wat veroorsaak dat ’n hond ’n goeie hond wíl wees.”

Sy het haar ook uitgespreek oor mense wat emigreer en dan hul troeteldiere van jare agterlaat. “As ’n hond dan jou ‘kind’ is, vat hom saam Australië toe.”

Nadine het hierop die mense geprys wat SAC ondersteun en in sulke gevalle die diere aanneem, en die klein groep vrywilligers wat die diere help versorg bedank.

Die sangeres het die lootjiegeld wat vir ’n sjokolade-bruin Nellie Vellies-leersak, haar onderneming se handelsmerk, ingesamel is, aan SAC geskenk.

Ciska Augustin Greeff, Rudi van Dyk en Zanette Kellerman, die eienaar van SAC, het die dag gereël.

Enigiemand wat ’n hond wil aanneem of SAC met skenkings wil help, is welkom om Kellerman by 082 921 0233 of 022 714 0110 te bel of ’n e-pos na zkellerm@mweb.co.za te stuur.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article