Dit was ’n middag van samesyn, saamsing en lekker eet saam met die bekende Suid-Afrikaanse sangeres Nádine.
Nádine het haar eerste optrede by die Hoedjiesbaai-hotel Sondag (4 Augustus) gelewer. Gaste het ’n heerlike Sondag- middagete geniet, saam gesing, gesellig gekuier en na die soet klanke van Nádine geluister.
Volgens Dolfie de Bruin, die bestuurder van die Hoedjiesbaai-hotel, was dit ’n baie spesiale dag. Wat die dag nog meer spesiaal gemaak het, was die teenwoordigheid van die Bester- en Eigelaar-familie en dié dat Nádine ’n huldeblyk aan Makkie Bester, wat vroeër vanjaar oorlede is, gelewer het.
“Ek persoonlik dink mense het die kos en die saamkuier geniet, en Nádine is ’n fenomenale sanger – mooi binne en buite – en sy het ’n vertoning gelewer wat almal geniet het. Haar skoonheid en krag op die verhoog het die Hoedjiesbaai-hotel se dak gelig,” sê De Bruin.
Nádine stem saam, dit was ’n spesiale dag. Sy sê die uitsig was besonders en die mense was ongelooflik vriendelik. “Die hotelpersoneel was hartlik en gasvry en natuurlik Dolfie – hy is ’n spesiale mens en ek weet hy werk baie hard,” sê sy.
Wat Nàdine die meeste geniet het, was die gelukkigheid en vreugde van die gehoor. Sy meen die Weskus sal haar sommer gou weer hoor sing.





