“Altesaam 31 jaar in die onderwys en nie vir ’n oomblik spyt nie.”
Só sê die onderwyser Anwell Newmam, wat tans tegnologie vir graad 9 en siviele tegnologie in houtwerk vir graad 10- tot 12- leerders by Hoërskool Weston aanbied.
Newman is ook die vakhoof vir die graad 9-leerders en departementshoof in sy vakgebied.
Newman is ook trots om te noem dat hy die superintendent vir die koshuis vanaf Januarie 2022 gaan wees.
“Vir my as onderwyser is my taak om die kind in sy geheel en tot sy volle potensiaal op te voed om eendag te doen wat hy/sy graag in die lewe wil doen of bereik – om die kind na die begeerte en drome wat hy/sy eendag vir sy kinders wil gee, te lei,” sê Newman.
Newman dink terug en vertel sy idee van en inspirasie vir onderwys het begin toe hy in Diazville Primêr was waar wyle Dennis Roberts hom in gimnastiek afgerig het.
“Ek was so gefassineer dat ek dadelik belanggestel het en presies soos hy wou wees. My inspirasie is verder verbreed toe ek met Bronwin Whittles by Hoërskool Weston kennis gemaak het, en my besluit is daar en dan gemaak dat ek my loopbaan as ’n onderwyser in liggaamlike opvoeding wou voortsit.
“Vandag is ek ’n gekwalifiseerde LO-onderwyser en dankbaar vir die twee menere wat my so bewus gemaak het van die belang van sport in my en ander se lewe.”
Newman het aan die destydse Athlone-kollege in die Paarl studeer, waar hy as onderwyser in liggaamlike opvoeding en biologie gekwalifiseer het. Hy het sy studies in tegnologie vir nog twee jaar by Langa Tegniese Skool voortgesit.
Daarna het hy nog twee jaar verdere opleiding by die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie in tegniese vakke ontvang.
“Oor die jare het ek ook verskillende kwalifikasies in atletiek, krieket en rugby bereik, wat ek waardiglik tot my volle potensiaal gebruik om die kinders op te lei.”
Newman sê die onderwys is nie vandag soos wat dit jare gelede was nie.
“Ons het nie meer dieselfde toegewyde kind nie. Die kind vandag is meer toegerus as wat ons jare tevore was, maar hy maak nie gebruik van die tegnologie wat tot sy beskikking is nie.”
Newman voeg by dat alles weer eens afhang van die omstandighede by die huis.
Hy sê met sy besige skedule wat die onderwys betref, handhaaf hy steeds sy sosiale lewe deur aan sport deel te neem en af te rig. Hy is in 2019 deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement gekies om vir die vierde jaarlikse Sasol-konferensie in tegniese vakke na Johannesburg te gaan.
“Onderwys gee jou die nodige standvastigheid wat jy in die lewe wil hê. Jy moet ’n passie hê om die onderwys te kan aanpak en ’n liefde daarvoor hê om met kinders te kan werk.”





