Nicolene Anderson en Dicky de Wet het ’n tweede kans op ware liefde by mekaar gevind.Foto:


Liefde het geen perke nie en kan jou enige tyd vind.

Só het Nicolene Anderson weer liefde gevind ná die skielike dood van haar man Barry in 2015 – slegs nege maande ná hul troudag (“Pasgetroudes se nuwe begin eindig skielik”, Weslander, 1 Oktober 2015).

Nicolene stel haar vertroue altyd in die Here en vertel dat sy sowat twee maande gelede gebid het en vir die Here gesê het sy gaan nie meer ’n lewensmaat soek nie, maar dat Hy iemand op haar pad moet stuur.

Nicolene het iemand in haar lewe nodig gehad wat ’n kind van God is en haar onvoorwaardelik lief het net soos sy is.

Min het sy geweet daar is ’n man met die naam Dicky de Wet in die Kaap wat ook bid en die Here vra en vertrou om die regte vrou in sy rigting te stuur. Hul gebede is verhoor en die twee se paaie het gekruis.

“Dicky het my op Facebook bevriend en gesê hy kom Weskus toe vir vakansie en dat ons moet gaan koffie drink. Hy het verblyf in Laaiplek gekry, maar was nie gelukkig met die plek nie toe vra hy of ek van gastehuise in Langebaan weet. Ek bel toe rond en almal is vol.

Nicolene het toe die idee gekry om Dicky in haar huis te verwelkom, maar eers moes sy ondersoek instel.

“Ek het op Facebook gesien dat hy Facebook-vriende is met my bure en besluit ek moet eers hoor of hy ordentlik is. Ek bel toe die buurvrou en sy deel my mee dat Dicky haar man se neef is en ek kan hom met ’n geruste hart in my huis laat bly.”

Die konneksie was dadelik daar en twee weke daarna op die rype ouderdom van 61 en 64 jaar vra Dicky haar om sy vaste meisie te wees, met ’n kys-ring en al!

Net meer as ’n maand ná hul ontmoeting het die twee hul verhouding verder gevat en is hulle nou amptelik verloof.

“God se tyd is altyd reg. Ek besef nou Jesus het my voorberei vir my tweede kans op so ’n kosbare liefde.”

Dicky sê ook die Here het definitief sy gebede verhoor. “Dit is werklik die hand van die Here. Sy is ’n ongelooflike mens en my tonikum. Sy bring vreugde en pret na die tafel toe.”

Nicolene wil mense aanmoedig dat hulle nie bang moet wees vir liefde nie, “veral as jy vir Jesus gevra het”.

  • “Jy moet die Here vertrou vir die regte man, want my eie keuses het nie een gewerk nie. Gee liefde ’n kans, maar moet nooit verander sodat iemand vir jou moet lief wees nie. Die regte persoon sal jou onvoorwaardelik liefhê, nes jy is.”. Weslander

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article