’n Moeder is deur God geskape. Dis iets wat ek al baie gehoor het, maar nooit verstaan het nie. My ma was altyd in my lewe. Ek is lief vir haar. Maar ek het nooit besef hoe baie sy vir ons kinders opgeoffer het nie.

As kind was Marie-biscuit-pap altyd vir ons iets soet gewees om aan te smul. Ons het dit altyd geniet om so bietjie kookwater oor die Marie’s te gooi en dan te sien hoe hulle opswel. Ons het dan ’n bietjie suiker oorgegooi en die Marie’s so half met ’n teelepel gemeng. Dit was dan ’n heerlike soet eetding gewees. Daar was nie tjoklits en ander lekkernye in ons huis gewees nie, maar ons het dit nie gemis nie, want ons het altyd die Marie Biscuits geniet.

Ek dink nou terug en partykeer het ek en my broer lekker aandetes geëet terwyl my ma nooit eintlik ’n bord kos voor haar gehad het nie – ek het dit nooit agtergekom as ’n kind nie. My pens was vol.

Ek het nooit agtergekom (tot onlangs toe nie) dat wanneer ’n mens na ’n moeder kyk, dan kyk jy na die mees reine liefde wat ’n kind ooit sal ken. Dis liefde. Geen voorgee nie. Dis onbaatsugtig. Die liefde is soos 1 Korintiërs 13 dit verduidelik: “Die liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Liefde vergaan nooit nie.” Dis ’n moeder se liefde.

My ma het altyd toebroodjies vir verskeie besighede in die dorp gemaak. Die heerlikste hoender-en-mayonnaise-toebroodjies en ander toebroodjies waarvan die klante kon kies. Sommige dae (aan die einde van die dag) dan kom my ma terug met haar kratte wat so ’n paar ure vantevore vol broodjies was. Daar het soms net twee broodjies oorgebly. Een vir my en een vir my broer. Ons het nooit gedink dat daar nie ’n broodjie vir mamma is nie.

Onlangs in my eie huis het ek een aand agtergekom dat my vrou vir my ’n bord kos inskep en vir ons baba kos maak, maar sy skep nie vir haarself kos nie. Dit was een van daardie maande wat dit moeilik gegaan het in ons huis. Maar dié keer, in plaas van myself vol te eet, het ek gedink “maar wat van my vrou? Wat van die moeder van my kind”? Ek het ná ’n lang gestry my bord kos met my hardkoppige vrou gedeel.

My ma se swaarkry was nie verniet nie. Dit het my geleer hoe om dankbaar te wees. Dit het my geleer wat liefde is. My moeder se hongerpyne het ’n joernalis en ’n advokaat gevoed – wie se beurt dit vandag is om terug te gee.

Die liefde bedek waarlik alles.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article