Ek hoor mense sê dit was ’n moeilike jaar, uitdagende jaar, traumatiese jaar, opwindende jaar – loadshedding, ag nee! So het elkeen sy eie persoonlike ervarings van 2022.

Hoogtepunte, op ’n kollektiewe vlak, is goeie reënval met ’n fantastiese landboujaar – dankie en geluk aan die boere. Aan die anderkant, groot skade en ook lewensverlies as gevolg van vloede en storms. Ook ons meegevoel met geliefdes.

Mens kry die gewaarwording toe Covid soos ’n donderstorm vervaag, begin gevalle en verliese van kanker al hoe meer op die radar verskyn. Op ’n persoonlike vlak het baie mense traumatiese verliese beleef met gepaardgaande rouprosesse. Die oumense het nogal geglo “tyd heel alles” – ek neem dit met ’n knippie sout. Verlieservarings, ook van geliefdes, vereis gewoonlik ’n rouproses. Dis belangrik om soos ’n Comradesmarathon in die proses te bly, deur die emosies te werk, die moontlike skuldgevoelens en klarigheid oor te kry en die unfinished te finish. Die rouproses is soos wasgoed op ’n wasgoeddraad, boonste randjie is al droog, terwyl water nog uit die moue en kraag drup. Met ander woorde party dae gaan “droog” (beter) wees, ander weer “nat”, meer hartseer. ’n Gesonde rouroetine kan die rouproses ondersteun: kry ’n foto van die geliefde, sit op ’n private plekkie met ’n kers en boekie. As jy oggende en aande die behoefte voel, gaan sit by foto, steek die kers aan, skryf gevoelens, woorde en ervarings neer wat opkom, en ventileer so totdat jy “droog” gedrup het. As jy gereed is vir closure, doen ’n ritueeltjie vir laaste respek.

Dan, oor hierdie groot dae wat ’n eerste is sonder geliefdes, besluit op ritueeltjie, soos ’n foto op Oukersaand van ’n geliefde waar julle kuier, steek ’n kers aan, toon respek en geniet saamwees met familie en vriende.

Die jaar het ook vele uitdagings gehad – geweld, misdaad, beurtkrag, storms, skade, finansiële verliese. Die effek van “Oujaarsaand op jou” is nie meer die gebeurtenis nie, maar hoe jy oor dit dink. Hou introspeksie, sien die fout raak, leer die lewenslesse daaruit en maak van die Nuwejaar ’n begin-fase van groei.

In die sielkunde kom post traumatic growth sterk na vore om hulpeloosheid, magteloosheid en mislukking deur jou eie keuse te omskep in persoonlike groei.

Fokus op lesse geleer, watter sterkpunte en vorige ervarings van jou persoonlike groei kan aanhelp. En ’n verdieping van die geestelike en religieuse dimensie van jou lewe kan persoonlike groei versnel.

Sou die trauma vasklou in jou psige, kan ons dit verwyder met BWRT (Brain Working Recursive Therapy), en gestoor in jou liggaam, kan jy dit uit “tremor” deur TRE (Trauma and Tension Release Exercies) in 2023.

Jou menswees, jou sterkpunte, jou vorige ervarings, jou geestelik geanker wees, met 2023 voor jou is dit die ware geleentheid vir groei en sukses – hang natuurlik af hoe jy daaroor dink!

Geseënde Kersfees en voorspoedige Nuwejaar vir 2023 – met die geleentheid vir persoonlike groei en sukses.

* Dr. Gielie van Dyk is ’n plaaslike kliniese sielkundige, kontak hom gerus by 022 714 1101 of epos gvdyk@mylan.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article