“Erfenis” kan gebruik word om ons verskille in kultuur, voorsate, gebruike en gelowe uit te lig en te vier. Meestal help die klem op ons verskille egter om ons te verdeel – ek en jy; ons en hulle. Dis ’n diep put van anders wees; anders dink.

Óf ons kan almal saam braai, want ’n braaivleisvuurtjie met ’n tjoppie of ’n sosatie en braaibroodjies of ’n paptert bring mense byeen. En saam met die rugby op die TV brand daar oor die hele Weskus, in al die buurte, ryk of arm, ’n vuurtjie êrens. Al is dit net om lank in die vlamme te staar en die lewe te bepeins.

Braaidag is in 2007 gebore as ’n teenvoeter vir geykte politiek-gemotiveerde en ja, soms verdelende erfenisvieringe, wat eintlik maar net misbruik word om kiesers te paai en op te werk met die uitgrawe van stokou koeie. Kom ons vat eerder hande op 24 September en vier mekaar se hede, vier ’n byna dertig jaar oue demokrasie, met kole wat knetter en vlamme wat lek.

Braaivleis is ons verlede, hede en toekoms. Net die burgers van die land gaan kan saamstaan – verkieslik om ’n braaivleisvuur – en sê: Dit is nou klaar. Ons wil nou praat oor ’n toekoms waarin elkeen wat sy kant bring, ’n heenkome het; waar ons ons nie langer polities gaan laat manipuleer en laat verdeel nie.

Want net soos ons as een nasie agter die Bokke staan om die Wêreldbekerrugbytoernooi te wen, net so loop die Weskus deur ons almal se are. Bokke bo!

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article