Ek wonder deesdae oor baie dinge, want daar is soveel opponerende uitsprake oor feitlik elke denkbare onderwerp. Dit lyk my vandat sosiale media aan elkeen ’n stem bied, weet ons nie altyd meer wie of wat om te glo nie.

Tydens die Covid-pandemie was daar ’n groot diskoers oor inenting al dan nie. Sommige mense het selfs hul werk verloor omdat party werkgewers dit as ’n vereiste gestel het. Intussen het van hulle weer hul beleid verander en inenting is nie meer ’n vereiste nie. Hoewel daar ’n tyd was dat ’n mens bykans nêrens kon gaan sonder ’n inentingsertifikaat nie, blyk dit volgens die jongste inligting dat slegs sowat ’n derde van die land se bevolking uiteindelik ten volle ingeënt is.

So ook met die voorsiening van elektrisiteit in Suid-Afrika.

Die een waarheid is dat Eskom geld verdien uit elke eenheid krag wat verkoop en verbruik word. Maar Eskom kan nie altyd genoeg krag lewer nie, daarom het ons dikwels beurtkrag. Ongelukkig veroorsaak beurtkrag dat mense minder elektrisiteit gebruik en Eskom se inkomste ly daaronder. So om wel hul begrote inkomste te probeer verhaal, wil hulle dan tariewe buitensporig verhoog. Dit beteken die verbruiker betaal baie meer vir al hoe minder krag. Nou wil Eskom straks ’n basiese tarief van verbruikers verhaal wat hul eie krag opwek.

Die een dag hoor ons private instansies mag nie hul eie krag opwek en aan die sentrale netwerk lewer nie, maar ’n maand later mag hulle. En wat gaan met Eskom gebeur as hy nog minder van die land se elektrisiteit gaan verskaf? Maar dan sê ’n minister die staat beoog nou om ’n tweede staatsondersteunde kragopwekkingsmaatskappy te stig wat met Eskom kan meeding. Soveel uiteenlopende stories kan vir seker nie tot die verbruiker se voordeel wees nie.

’n Ander saak waaromtrent ’n mens kan sê “soveel dae, soveel dinge” is klimaatsverandering. Ons word vertel hoe die see gaan styg en Kaapstad bykans onder water gaan verdwyn, maar ’n paar dae later hoor ons weer dit behoort darem nie naastenby so erg te wees nie.

Daarmee saam word ons gereeld vertel van die nuwe wonders op wiele, naamlik elektriese voertuie (EV’s). Ja, dit is waar dat sulke voertuie baie voordele bied, waaronder die afwesigheid van die vrystelling van CO² uitlaatgasse – ’n zero koolstofspoor.

Maar is dit die beste oplossing vir ’n land soos Suid-Afrika? Ek het ’n bietjie op die internet gaan rondsnuffel oor die moontlik groter prentjie van hierdie “wonders op wiele”.

Eerstens is EV’s nie goedkoop nie. Behalwe een intreevlak stadsmotortjie van ±R250 000 kos al die ander beskikbare modelle tussen R700 000 en R4 miljoen.Verder kos die goedkoopste herlaai-installasies vir private huishoudings meer as R10 000, met pryse tot so hoog as R100 000 vir van die duurder motors.

Voorts kan elektriese motors in gunstige omstandighede meestal nie veel verder as 400 km ry voordat die battery herlaai moet word nie, terwyl ander voertuie dikwels 800 km of meer met ’n tenk petrol kan ry. En hoe ver gaan jy per batterylading kan ry indien jy ’n woonwa Kruger Wildtuin toe sou sleep?

Terwyl dit sowat vyf minute neem om ’n motor met brandstof te vul, neem dit maklik 30 tot 60 minute om ’n motor by ’n battery-“vulstasie” vol te maak. As elke voertuig dus ses tot twaalf keer solank by so ’n herlaaistasie moet staan, hoeveel parkeerruimte moet so ’n stasie dan bied, en wat doen die motoriste gedurende daardie tyd? En wat as twee uur van beurtkrag juis dan inskop? Miskien sal dit voordelig wees vir gastehuise op die platteland.

Wat maak jy as jou motor tussen Beaufort-Wes en Laingsburg met ’n pap battery gaan staan? Nou kan iemand jou nie kom help met ’n kannetjie petrol nie. Miskien sal ’n mens dan maar ’n kragopwekker of sonpaneel moet saamry.

’n Ander bron van kommer is dat die vervaardiging van één EV-battery met 60kWh-kapasiteit, soveel as nege ton CO² vrystel terwyl die wegdoen van ou batterye ’n groot kopseer is. Voeg daarby dat die vervanging van ’n EV se battery jou tussen R100 000 en R250 000 kan kos, dink ek ’n mens sal deeglik moet besin alvorens jy besluit om so ’n voertuig te koop.

*David Malherbe is ’n vryskutskrywer en woon in Langebaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article