Die spanning het behoorlik hoog geloop in die kombuis toe die ma-en-seun-kokke Ashley en Zelda Constant onlangs op kamera voor die stoof ingeskuif het om hul slag agter die potte te wys.
Met R10 000 se wengeld op die spel het dié Saldanhabaaiers die potte behoorlik aan die kook gehou op kykNet & Kie se nuwe gewilde vermaaklikheidsprogram My ma kook beter as joune. Ashley en Zelda het in die program se tweede episode, wat Saterdag 14 Januarie uitgesaai is, verskyn.
Die program behels twee spanne wat uit ’n ma en haar seun of dogter bestaan, en wat dan hul beste disse voorsit om die kans te hê om te wen. Natuurlik het Mamma al die kennis en ken sy haar pad in die kombuis, waar die kinders dalk glad nie kan kook nie, en dít groot vermaak opdis.
Volgens Ashley het hulle die senuwees aan die begin voel pla. “Maar die produksiespan het ons vinnig op ons gemak laat voel,” vertel hy.
Met net een minuut om die bestanddele vir hul paella bymekaar te kry en net 32 minute op die stophorlosie om die dis aanmekaar te slaan, het hulle geen tyd gehad om te mors nie.
Ashley sê die tydfaktor was een van die uitdagendste dele van die ervaring.
Ma Zelda vertel dat sy volle vertroue in haar seun gehad het om die dis aanmekaar te slaan. “Ek het geweet hoewel hy gaan sukkel om die resep te volg, sal hy die uitdaging geniet en sy bes doen,” vertel Zelda.
Om op televisie te verskyn, die aanbieder Early B te ontmoet en die vriendelikheid en gasvryheid van die produksiespan te ervaar, was ’n hoogtepunt vir Zelda. Sy stem saam die span het hulle op hul gemaak laat voel.
“Die uitdagendste was om voor ’n klomp vreemde gesiggies en helder kameraligte op te tree.
“Jy ken daai resep uit jou kop, maar as die kamera begin rol, word jy blind.”
Tot hul verbasing het die beoordelaar Errieda du Toit besluit Ashley en Zelda se paella is die beste.
Hulle het die prys gewen, maar sê hulle het die kompetisie aangedurf met die gesindheid om vir die pret deel te neem asook om iets as ma en seun saam te doen.




