’n Brandbestrydingshelikopter gooi seewater op die vernietigende vlamme.Foto’s: Danie Hefers


Die bou van die luukse Shelley Point Hotel, Spa en Gholfbaan in St. Helenabaai was ’n hartsaak, vertel die eienaar nadat dié ikoniese hotel verlede week vroegoggend aan die brand geraak en tot op die grond afgebrand het.

Die ontwikkelaar, Gert Joubert, wat al ’n maand lank in en uit die hospitaal is weens gesondheidsprobleme, kon nog nie self die perseel besoek nie.

Dit gaan emosioneel baie moeilik vir hom wees, want die hotel was meer as ’n finansiële belegging vir hom.

“Dit was ’n kunswerk, ’n Mona Lisa, wat uitgebrand het. Geld kan dit nie vervang nie. Dit is ’n persoonlike verlies, my skepping, wat verlore is.”

Die brand het op Dinsdag 2 Januarie omstreeks 06:00 uitgebreek en sowat 200 gaste, sommige nog in nagklere, en personeellede genoodsaak om uit die hotel te vlug.

Volgens kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder, is niemand in die voorval beseer nie.

“Dit is die belangrikste ding: dat daar nie lewensverlies was nie,” het Joubert gesê. Hy het benadruk dat die personeel, wat almal hul werk kwyt is, uitbetaal gaan word, “meer as wat die staat vereis”.

Hy noem die hoeveelheid tyd en aandag wat aan die kleinste besonderhede, soos persiese tapyte in elke kamer, spandeer is.

“Dit was die mooiste hotel in die wêreld . . . wat ek nog gesien het . . . en ek kom vier of vyf keer per jaar oorsee.”

Joubert beskryf die hotel as ’n onontdekte diamant, omdat hy meen Suid-Afrikaners het dit nie genoeg waardeer nie, juis omdat dit aan die Weskus was.

“As dit in die Kaap gestaan het, sou dit ’n heel ander waardering by mense gekry het; ’n profeet word mos nie in sy eie tyd geëer nie . . . en so was dit tot ’n mate ook met die hotel.”

Hy het die hotel gebou om waarde tot die Shelley Point-landgoed toe te voeg, en hy wou ’n mooi hotel bou.

Hy het vooraf besef dat dit dalk finansieel swaar kan gaan om voete daar te kry. “Ek het aanvaar dat ek dit sal moet subsidieer ter wille van die gemeenskap.”

Die hotel, wat geheel en al met ’n rietdak bedek was, het in 2008 sy deure geopen en het benewens 88 suites ook drie restaurante, onderdakparkering, ’n skoonheidsalon en spa, gimnasium, konferensielokale, twee swembaddens en twee tennisbane gehad.

Joubert is vroeër in die media aangehaal dat die skade sowat R300 miljoen beloop, maar wou hom nie daaroor uitspreek totdat die versekeringsproses afgehandel is nie. Hy is wel oortuig daarvan dat dit onmoontlik gaan wees om die hotel te herbou, want alles wat nie in die brand verwoes is nie is óf deur hitte óf water beskadig.

Of daar moontlik in die toekoms ’n nuwe gebou opgerig gaan word, kan Joubert nog glad nie eens oor bespiegel nie, en so ook nie oor die oorsaak van die brand nie.

Daar is ten tyde van die brand uitlatings gemaak dat die brand moontlik in een van die kombuise ontstaan het, maar daar word ook gesê dat dit moontlik in ’n kamer aangrensend aan die kombuis ontstaan het.

Joubert het benadruk dat die hotel volledig toegerus was met al die toebehore om ’n brand te voorkom soos wat wetlik vereis word, soos ’n sprinkelstelsel en vuurvaste lae in die dak. “Ons wag nou maar vir die feite.”

Die burgemeester, André Truter, wat heeldag op die toneel van die brand was, het gesê brandweerdienste van Shelley Point, die munisipaliteite van Saldanhabaai (SBM), die Weskus-distrik, Swartland en Bergrivier het saam met twee brandbestrydingshelikopters agt ure lank gewerk om die vlamme te blus.

Die helikopters wat water uit die see gaan skep het, het volgens Truter ’n deurslaggewende rol gespeel.

Al wat lyk asof dit redelik ongedeerd daarvan afgekom het is die khoi-dam en die sonpanele oor die ondergrondse parkeergebied.

Helfrich het gesê die polisie is besig met ’n ondersoek na die brand en daar word op die forensiese verslag gewag.

Tereza Burger, kommunikasiebeampte van SBM, het benadruk dat hulle eers na afloop van verdere deskundige ondersoeke en ontleding die oorsaak van die brand kan bekendmaak.

Basil January, SBM se hoof van brandbestryding- en reddingsdienste, is net bly dat daar voorkom is dat die brand na omliggende huise versprei.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article