Twee St. Helenabaaise kunstenaars het dit op hulself geneem om bietjie kleur te bring in die dorp van Paternoster.
Die kunstenaars Anneli Nieman en Maya Atkinson Rabe van “Art on the Go” het deur die strate van Paternoster gery en op ’n huis afgekom waar hulle gesien het mense by stilhou om foto’s te neem van ’n muurskildery teen die huis. Dié twee het toe ook by die huis gestop en die dowwe prentjie gesien, waarna hulle die eienaars gevra het of hulle hul kunstige gawes kan gebruik om die muurskildery so bietjie op te kikker. Die kunstenaars het dit bloot as ’n gemeenskapsprojek aangepak uit liefde, iets waaroor dié twee baie passievol oor is.
Die oorspronklike muurskildery was ’n vae verbleikte prent wat amper nie meer sigbaar was nie. Die twee kunstenaars het ’n seemeeu bygevoeg, die boot en ligtoring bietjie verander, die see meer natuurlik laat lyk en die knoppe op die boot se stuur soos koper laat lyk. By die rotse het hulle ook sand en branders ingebring.
Vir Maya om betrokke te wees by die muurskildery, het sy weer eens ervaar hoe kuns mense saambring en positiwiteit skep in die lewe. “Om die besoekers en gemeenskap saam te sien en te gesels met almal was ’n hoogtepunt. Ek glo met positiwiteit kan ons almal hande vat en saam staan,” sê Maya. Anneli deel ook graag dat die projek baie vir haar beteken het, juis omdat dit ’n jare lange droom van beide Maya en Anneli was om gemeenskapsprojekte te begin.
Anneli glo sulke kunsprojekte vertel ’n storie van die plaaslike mense. Baie het hulle genader en gevra of hulle dieselfde teen hulle mure kan doen en so hul storie kan uitbeeld. Die muurskildery was maar net die begin en daar is nog ’n paar take wat hulle by die huis wil verrig.




