Noluvu Ludidi
Ná 42 jaar in die onderwys tree Muriel van Wyk aan die einde van die jaar af.
Wanneer Van Wyk op haar laaste dag by die Laerskool Vredenburg uitstap waar sy al die jare skoolgee, meen sy sy sal uitstap sonder spyt.
“Ek wou eintlik ‘n verpleegster geword het, maar dit het anders uitgespeel. Ek is ‘n gr. 4-juffrou en hou besonder baie van dié ouderdomsgroep. Hulle is só ontvanklik en as ek moes oor kies, sou ek dit presies weer so doen,” vertel Van Wyk.
Met soveel jare as onderwyser meen Van Wyk daar was talle hoogtepunte, maar sy sal definitief die atletiek-afrigting onthou en koester.
“Die atlete het beslis gesorg vir baie vreugde en lewenslange konneksies. Nie tyd of geld was ooit ‘n faktor nie en daar was altyd top-prestasies. Ek is regtig ook baie trots op baie van my oudleerders wat teruggekeer het na die onderwysberoep, skoolhoofde geword het en baie wat vandag saam met my skoolhou by die Laerskool Vredenburg en in die groter Weskus.
“Ek gaan vir seker die kinders mis, beslis my kollegas en die meeste van alles, die plek waar ek behoort het, die instansie waaraan ek vir soveel jare lojaal was.”
Nicoleen Loubser, hoof van die Laerskool Vredenburg, vra wanneer kan ‘n onderwyser met ‘n geruste hart aftree?
“Wanneer sy ander bemagtig het om in haar voetspore te volg en voort te bou op haar jare lange toewyding. Juffrou Van Wyk het diep spore in ons gemeenskap oor die laaste 40 jaar getrap. Sy was nie net ‘n puik onderwyser in die klaskamer nie, maar ‘n absolute voorslag op veral die atletiekveld.”
As oudleerder van Van Wyk onthou Loubser die entoesiasme en energie waarmee Van Wyk skoolgehou het, die bypassende sportrompies en bo-stukkies, met ‘n krulkop (daardie tyd se perm) en met een of ander bal of hoepel of tou, lok dadelik ‘n glimlag by haar. “Onder haar vlerk het ek self begin skoolhou. Haar verhouding met leerders is noemenswaardig en kinders kom altyd by haar eerste.
Ervaring kan beslis nie gekoop word nie en dit was ‘n voorreg om 18 jaar by haar te kon spons, menseverhoudinge, konflikhantering of soms net wanneer om stil te bly en waar te neem. Ek begeer haar vermoë om provinsiale atlete op sesjarige ouderdom te identifiseer. Sy kyk na ‘n kind se lyfie en dan weet sy net.”
Loubser sê Van Wyk was die rede vir baie leerders van die Laerskool Vredenburg se lewensukses, professionele sportsterre, mediese dokters, advokate, skoolhoofde en sommer net ‘n klomp gelukkige volwassenes het vanweë haar motivering rigting in die lewe gevind.
Van Wyk voeg by dat die Laerskool Vredenburg nog altyd ‘n trotse baken in die gemeenskap is, opgebou deur leerders en personeel van 1972. “Julle wat agterbly het ‘n verantwoordelikheid om voort te bou aan ons leuse: Net die beste gee voldoening!”
Sy sê sy tree met groot dankbaarheid uit en gaan vir eers net diep asem skep.





