Advokaat Hanlie Linde, die munisipale bestuurder van die Bergrivier-munisipaliteit, aan die woord. Foto: Yaël Malgas


Begrotings, munisipale sake en kragvoorsiening was net van die besprekingspunte op die jaarlikse provinsiale ledevergadering wat verlede week in Langebaan gehou is.

Verteenwoordigers van die Wes-Kaapse munisipaliteite het twee dae by Club Mykonos byeengekom danksy die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering (Salga).

Krag en elektrisiteit was een van die besprekings met Eskom, die Wes-Kaapse regering, die Stad Kaapstad en die Bergrivier-munisipaliteit wat elkeen ’n spreekbeurt gekry het.

Kgopisho Mahunonyane het nie veel oor die huidige probleme by die kragverskaffer of beurtkrag uitgebrei nie, maar vertel van Eskom se planne van battery-stoorprojekte asook elektriese voertuie.

Shane Prins van die Stad Kaapstad het oor die verskeie ingrypings om inwoners in die metro se ligte ten spyte van beurtkrag aan te hou, gepraat.

“Ons voorsien nie in die kort termyn dat die tegniese verrigting by Eskom sal verbeter nie. Dit laat ons met die vraag – wat staan ons te doen?” meen Prins.

Vir die Stad Kaapstad beteken dit verskeie projekte om selfs meer elektrisiteit aan inwoners te verskaf.

Dit sluit onder meer in om meer elektrisiteit deur middel van die Steenbrasdam op te wek – veral in spitstye. Prins het verduidelik ’n prioriteit vir die Stad is om bedrywe en die kommersiële sektor so veel as moontlik teen kragonderbrekings te beskerm.

Van die projekte is die planne om ’n sonkrag-plaas in Atlantis te vestig. Na verwagting sal dié plaas 10 MW kan opwek.

Prins het verduidelik bestendige elektrisiteit is nodig om werksgeleenthede te beskerm en ekonomiese groei te handhaaf.

Helen Davies van die Wes-Kaapse regering het op haar beurt vertel van die onderskeie kragverskaffingsprojekte waarmee hulle besig is. Deel hiervan is die regering se planne vir ses munisipaliteite – insluitend Saldanhabaai en Swartland – om uiteindelik hul eie krag op te wek.

Indien die vrae en kommentare van die vloer enige aanduidings was, wil talle munisipaliteite nie meer van die nasionale elektrisiteitsnetwerk afhanklik wees nie.

Adv. Hanlie Linde, die munisipale bestuurder van die Bergrivier-munisipaliteit (BM), het verduidelik wat die impak van beurtkrag op dié munisipaliteit is.

“Die publiek is fed-up. Die inwoners skakel reg deur die nag – hulle wil nie meer beurtkrag hê nie,” het Linde gesê.

Sy het gesê die boodskap wat van Eskom kom, is dat dinge erger gaan raak voor dit beter raak, maar Linde sê niemand kan bekostig dat dit vererger nie.

“Ons het so baie van die afgelope drie jaar aan beplanning bestee – planne vir wat ons sal doen in ’n totale gebrek aan elektrisiteit. En aan die operasionele kant selfs [beplanning] net om ander dienste tydens fase 6-beurtkrag aan die gang te hou.”

Die verbintenis met die lewering van munisipale dienste kan nie onderskat word nie, het Linde verduidelik. Sonder elektrisiteit kan die munisipaliteit nie doeltreffend water verskaf nie en die riool-pompstasies moet op kragopwekkers loop.

“Dink net aan al die oortyd en die impak op tegniese spanlede – hulle werk aan niks anders nie. Tydens fase 6-beurtkrag sien hulle net om na die infrastruktuur en die kragopwekkers om riool uit die riviermonding te hou,” het sy verduidelik.

Die Bergrivier-monding is ’n beskermde vleiland-gebied. Die riviermondig word internasionaal as ’n belangrike omgewing geag en is vroeër vanjaar ’n Ramsar-gebied verklaar.

Linde het verder verduidelik elektriese infrastruktuur moet nou daagliks twee of drie keer aan- en afgeskakel word, terwyl dit ontwerp is om slegs twee keer per jaar afgeskakel te word.

“Die aan-en-afsit veroorsaak ’n verkorting van ons infrastruktuur se leeftyd, en wie gaan eendag daarvoor moet betaal?”

Tydens fase 6-beurtkrag, die hoogste fase wat tot dusver ingestel is, gebruik die Bergrivier-munisipaliteit 2 020 l diesel per dag om die elektrisiteit aan te hou. Linde sê dit is R14,4 miljoen, waarvoor nie begroot is nie.

“Die BM is ’n redelik klein munisipaliteit in vergelyking met ander munisipaliteite hier. Ek wil nie eens dink aan wat die rekening vir ’n Stellenbosch-, Drakenstein-, George- of Saldanhabaai-munisipaliteit moet wees nie,” het sy gesê.

Haar voorstel aan Eskom was om verlaagde beurtkrag by munisipaliteite te hê wie se kragrekeninge op datum is. Sy meen vele munisipaliteite sal dan seker wees om hul agterstallige Eskom-rekeninge in te haal.

Plattelandse ontwikkeling, begroting vir nooddienste en infrastruktuur was van die ander besprekingspunte.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article