Munisipaliteite – veral die kleineres – moet dit oorweeg om ’n sirkel-ekonomie-model te implementeer, wat hulle kan help om afval volhoubaar te bestuur. Dit behels die hergebruik, herwinning, opknapping en hervervaardiging van afvalprodukte, eerder as om dit net in ’n opvullingsterrein te stort.

Só sê dr. Timoteus Kadhila, wat onlangs sy doktorsgraad in openbare en ontwikkelingsbestuur aan die Universiteit Stellenbosch behaal het.

“Deur ’n sirkel-ekonomie-model deel van hul afvalbestuurpraktyke te maak, kan munisipaliteite hul hulpbrondoeltreffendheid verbeter, werksgeleenthede en nuwe inkomstestrome skep, die bestaan van plaaslike gemeenskappe verbeter en die uitwerking op die omgewing verminder,” sê Kadhila.

Kadhila, wat nou ’n post- doktorale genoot by die Universiteit van Namibië is, het ondersoek ingestel oor hoe die huidige afvalbestuurmodelle van die munisipaliteite van Langebaan in die Wes-Kaap en Swakopmund in Namibië binne die konteks van ’n sirkel-ekonomie tot die verwesenliking van volhoubare afvalbestuur bydra (omgewings-, ekonomiese en maatskaplike volhoubaarheid). In ’n sirkel-ekonomie val die klem op die vermindering van die gebruik van roumateriaal, die ontwerp van produkte sodat dit ná gebruik maklik vir hergebruik uitmekaar gehaal kan word (eko-ontwerp), die verlenging van die lewensduur van produkte deur instandhouding en herstel, die gebruik van herwinbare materiale in produkte en die herwinning van roumateriaal uit die afvalvloei.

Kadhila het onderhoude met senior werknemers by die twee munisipaliteite en private afvalbestuurmaatskappye gevoer. Hy het ook munisipale beleide, prosedures, prosesse, organisatoriese strategieë en verslae ontleed en stortingsterreine besoek om die munisipaliteite se afvalbestuurpraktyke van nader te bestudeer.

Volgens Kadhila streef die twee munisipaliteite daarna om afval op ’n geïntegreerde manier te bestuur, bevorder hulle afvalvermyding en die minimalisering van afval, moedig hulle die skeiding van afval aan en fasiliteer hulle die herleiding van herwinbare en herbruikbare afval weg van die opvullingsterrein af.

“Hulle het egter nog nie ’n sirkel-ekonomie-model deel van hul afvalbestuurstelsel gemaak nie. Hulle volg nog ’n liniêre ekonomie-model, met opvulling as die oorheersende metode om van afval ontslae te raak.

“Wanneer ’n plastiekhouer, kinderspeelgoed, verpakkingsmateriaal ensovoorts nie meer nodig is nie, word dit in opvullingsterreine gestort.”

Kadhila wys daarop dat die meeste munisipaliteite in Suid-Afrika en Namibië nog nie ’n sirkel-ekonomie as deel van hul afvalbestuurpraktyke geïmplementeer het nie.

Hy het ’n raamwerk ontwikkel wat die munisipaliteite van Langebaan en Swakopmund – of enige ander klein munisipaliteit wat sy afvalbestuur wil verbeter – kan gebruik om ’n sirkel-ekonomie-model as deel van hul afvalbestuurpraktyke te implementeer. Hierdie raamwerk beklemtoon sleutelaspekte soos koste, komitees wat ’n sirkel-ekonomie kan koördineer, afvalskeiding, groenmarksentrums en die opvoeding en opleiding van plaaslike gemeenskappe oor afvalskeiding.

Hy sê koste is een van die grootste hindernisse in die implementering van ’n sirkel-ekonomie.

“Daarom moet ’n jaarlikse begroting wat die regering (40%), munisipaliteit (40%) en sleutelbelanghebbers (20%) gesamentlik finansier, voorgelê word om die sake van die raamwerk suksesvol te bestuur. Die begroting moet voorsiening maak vir die aanstel van koördineringskomitees wat kan verseker dat sirkel-ekonomiese aktiwiteite by bronne wat afval skep, toegepas word.

“Die komitee moet verantwoordelik wees vir die opstel van die begroting, die bepaling van die koste vir die implementering van die sirkel-ekonomie en vir die voorlegging daarvan vir goedkeuring aan die toepaslike belanghebbers.”

Kadhila beklemtoon ook dat die skeiding van afval uiters belangrik is.

“Afval wat redelik beskikbaar is vir hergebruik, moet teruggeplaas word vir hergebruik.

“Die sirkel-ekonomie word al gewilder as ’n dryfkrag vir omgewings-, ekonomiese en maatskaplike volhoubaarheid, hoewel meer beleggings en doeltreffender oorsigbestuur in die meeste gevalle nodig is om belowende innovasies uit te brei.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article