Jan Swartz (63) word deur polisiebeamptes begelei.Foto: Verskaf


Die voormalige munisipale bestuurder van die Hantam-munisipaliteit en huidige munisipale bestuurder van die Nama Khoi-munisipaliteit het vanoggend in die Calvinia-landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog en oortreding van Munisipale Finansiële Bestuur Wet 56 van 2003.

Die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoek (Valke) se ernstige kommersiële misdaadondersoekspan het Jan Swartz (63) op Springbok in hegtenis geneem. Hy het op Woensdag 27 Maart vlugtig in die hof verskyn.

Swartz het voorheen ook as verkeershoof en later as direkteur van beskermingsdienste by die Matzikama-munisipaliteit op Vredendal gewerk.

Volgens Valke-woordvoerder AO Nomthandazo Mnisi word daar beweer dat Swartz tussen 2019 en 2020, terwyl hy die munisipale bestuurder by die Hantam-munisipaliteit was, ’n maandelikse subsidie vir twee amptelike selfone ontvang het, terwyl die munisipaliteit ook betaal het vir die rekening aan die diensverskaffer wat in stryd was met die pakket wat hy by die munisipaliteit gehad het. As gevolg hiervan het die munisipaliteit werklike skade van R33 470,39 gely.

In ’n ander onverwante aangeleentheid het die beskuldigde na bewering opdrag gegee dat twee vragte gruis wat aan die munisipaliteit behoort by sy woning afgelewer word vir persoonlike gebruik. Die munisipaliteit het geldelik skade met dié handeling gely. Die presiese bedrag is nog nie bekend nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article