Om twaalf motorfietsklubs se geleenthede en saamtrekke op die Weskus se sosiale kalender te koördineer, is nie ’n eenvoudige ding nie, maar een van die doelwitte waarna die Weskus-motorfietsvereniging (WMA) streef.
Gerrie Pieterse is op Woensdag 6 Maart op die jaarvergadering by Juffroushoogte as voorsitter verkies. Volgens hom is een van die WMA se grootste doelwitte om die samesyn en verhoudings tussen die klubs te behou en om die beeld van motorfietsry te bevorder sodat die algemene publiek ’n beter insae in die werkinge van die motorfietsry-wêreld kan kry.
Die WMA is in 2008 gestig met die hoofdoel om motorfietsklubs, motorfietsgroepe en individuele motorfietsryers in die Weskus te verenig en van diens te wees. Hulle stel ’n jaarlikse kalender op om te verseker dat geleenthede nie bots nie.
Pieterse het verduidelik dat die WMA nasionale standaard-protokol volg met reëls in verband met klubs en hul lede en gewone MC- en MCC-klubs. Van tyd tot tyd word aansoeke om registrasie van nuwe klubs na die WMA se “taakspan” verwys, wat mense deur die registrasieproses help.
“Dit gaan alles oor wedersydse respek – iets wat groot is in ons motorfietsry-wêreld. Motorfietsry is ’n leefstyl. Dit is iets wat ondervind moet word om ’n entoesias te word. Namate nuwe geslagte die motorfietswêreld betree, het hulle rigting en leiding nodig om by ’n klublewenstyl in te pas.
AARD van motorfietsry
“Daar is heelwat van die ouer garde wat die mark betree met luukse toer- en langpadfietse en die baie gewilde avontuurmotorfietse, en daar is diegene wat agting slaan op motorfietsklubs en andere wat dit heeltemal ignoreer. Organisasies soos die WMA ag alle motorfietsryers as deel van ons.
“Die ekonomie druk en ons almal word ouer met ander prioriteite in ons lewe. Die kostes verbonde aan die koop van ’n motorfiets en ook die veiligheidstoerusting en beskermende klere het geweldig groot geword. Ten spyte hiervan sien ons meer en meer motorfietsryers op ons paaie wat elke geleentheid terdeë geniet.”
Die WMA kry sy mandaat van die presidente van die Weskus-motorfietsklubs, hetsy lede of nie.
“Nouer skakeling met veral die Kaapse klubs is al gevestig, veral met ons eweknie in Kaapstad, die Wes-Kaapse Motorfietsvereniging of MAWC. Die gebied is groot en met klubs so ver as Vanrhynsdorp en Vredendal bly nouer kommunikasie met verafgeleë klubs ’n uitdaging.”
Padveiligheid is ook vir die WMA van die uiterste belang en Pieterse meen dit moet meer aandag onder motorfietsryers geniet.
Die klubs wat tans aan die vereniging behoort, is (in alfabetiese volgorde) Highway Pirates, Meeulanders, Megaforce MC West Coast, Mohicans Namaqua, Nimrods, Road Thunders, Street Bullies, The Clique, Tsalach Riders, Undaunted, Westside Rattlers en Yzerfontein MC.
Die klubs is gesetel in die 400 km tussen Yzerfontein tot Vredendal.
Selfs klubs wat nie deel is van die organisasie nie, het al die WMA ingeroep om probleme en konflik tussen klubs op te los en regstellende aksies in te stel.
“Daar is gelukkig bitter min sulke situasies tussen klubs, wat ons taak baie makliker maak.”
geld vir welsyn
Gerrie benadruk dat tye verander het en beskikbare geld om projekte mee te stuur, oor die jare heelwat verminder het. “Motorfietsry en instandhouding het duur geword, wat aangevul moet word met geldinsamelings en klubgeleenthede. Bywoning van hierdie gebeurtenisse – veral die geldinsamelings – het afgeneem.”
Die WMA samel ook self geld en goedere vir welsynorganisasies in. “Met ons buddy fund is geldelike bystand reg deur die donker grendeltydperk gelewer, met sekere klubs wat flink ingespring het met hul eie bystandplanne.”
Hoewel dié geld soms beskikbaar gemaak word aan enige mens of gesin wat betrokke is by motorfietse en nie net klublede nie, word die geld hoofsaaklik aan medeklublede wat in nood verkeer, gegee. “Om ’n stewige beurs bymekaar te kry, wil ons hierdie beskikbare geld verdriedubbel.”
Dennis Robinson, wat verlede week ná nege jaar as voorsitter uitgetree het, het die WMA in 2015 laat herleef nadat dit ’n paar jaar onaktief was.
Sy besluit om uit te tree en as raadgewer aan te bly, gaan hoofsaaklik daaroor om aan ander die geleentheid te gee om op sy en sy voorgangers se werk en toewyding voort te bou.
Pieterse meen Robinson was instrumenteel in die heropbou van die WMA. “Hy het met sy verbintenis tot die motorfiets- en klubwêreld oneindig baie kennis na die tafel gebring, en die motorfietsgemeenskap in die Weskus het onder sy leiding net groter en sterker geword.”
Robinson het daadwerklik daartoe bygedra dat toewyding versterk en klubs ’n nouer verbintenis met mekaar gekry het. “Dennis was ook instrumenteel in die opstel en bevordering van die Kaapse klub se grondwet en die nasionale grondwet met die huidige regulasies. Hy het groot persoonlike opofferings gemaak om motorfietsklubs en verwante organisasies te bevorder.”
Robinson is ook bekend vir sy spoedige konflikoplossing wat spruit uit jare se betrokkenheid by die MAWC, waar hy baie kennis en ervaring opgedoen het.
“Ander sal jare vat om sy breë kennis in te haal,” meen Pieterse.
Vir meer inligting, kontak Corna Swart, sekretaresse, by 081 270 7657 of besoek die webwerf by wcma.co.za.
Die jaarlikse gebeurlikheidskalender is ook daar te sien.




