Die Juffroushoogte-gasteplaas net buite Vredenburg het Saterdag 5 Augustus gebrul met sowat 250 motorfietsryers en entoesiaste wat die Mac’s Familia 1313 Saldanha-motorfietsklub se eerste potjiekoskompetisie vir die Weskus kom bywoon het.
Ná vier ure se swoeg rondom ysterpotte met elkeen se unieke speserymengsel en ander geheime, het die Megaforce Weskus-motorfietsklub met die louere weggestap. Die klub se “junior” span was met hul geurige beesstertpot die heel eerste wenners van dié kompetisie, waarvoor elf spanne ingeskryf het. Volgens Annemarie Pretorius, een van die beoordelaars, het hulle ook die beste spangees gehad.
Megaforce Weskus se “senior” span het die tweede plek verwerf met hul warm-kerrie-lamskenkelpot en die Mac’s Familia Tonitro-span het derde geëindig met ’n beesstertpot. Die totale prysgeld op die spel was R6 000.
Christo van Dyk, president van Mac’s Familia 1313 Saldanha, is in sy noppies met hoe dié dag verloop het en hy hoop om dit ’n jaarlikse instelling te maak. “Die idee het by die Weskus-motorfietsvereniging ontstaan uit ’n behoefte om al die klubs vir ’n verandering bymekaar te bring. Ek dink ons het dit suksesvol reggekry.”
Die sonnige weer het ook saamgespeel en ’n dag van familiepret en samesyn tussen die verskillende klubs verseker. Hoewel die kompetisie straf was, is bande gesmee, baie gelag en boonop lekker geëet.
Die ander drie beoordelaars was Chris Pretorius, Johan Reynecke en Charl Hopley. Verskeie gelukstrekkings met pryse is gehou nadat lootjies verkoop is, soos ’n nag se verblyf vir twee by die Oyster Catcher-gastehuis in Paternoster, twee nagte vir twee by die Smuggler’s Cottage in Paternoster, ’n handgemaakte houtpen deur John Hope, ’n motorfietsdiens deur Jaco de Goede, ’n bottel 1313-brandewyn van die Mac’s-motorfietsklub en ’n drie-liter-bottel Jägermeister wat Harcourts Langebaan geskenk het.
Harcourts het vir verdere pret gesorg met ’n bottelgooi-speletjie waarmee heerlike kleiner pryse gewen kon word.
Mac’s Familia het die geleentheid ook gebruik om aan agt lede hul patches (kentekens) as volwaardige lede te oorhandig – ’n besonderse voorreg wat ’n ernstige saak in die motorfietsrywêreld is.





