Terwyl die res van die Weskus Saterdag (10 Junie) lekker onder hul komberse gesit en reekse kyk het, het ’n groep motorfiets-entoesiaste die mis en ysige koue op hul veldren- en vierwielmotorfietse aangedurf vir die jaarlikse SPH Hopefield Funduro.
Dit is vanjaar vir die dertiende keer op die Enkelvlei- en omliggende plase tussen Hopefield en Malmesbury gehou. Die plaaspaaie was modderig en uitdagend weens die voorafgaande week se aanhoudende reën – net wat dié 240 entoesiaste, oud en jonk, na uitgesien het.
Plek-plek op die 16 km-roete was die modder letterlik stewelhoogte, en moes van die kleiner motorfietsryers oor en deur dit gehelp word.
Die oorspronklike roete, wat bosse, vlak rivierkruisings en talle modder- en sand-uitdagings ingehou het, het oor 32 km gestrek, maar moes weens té vol riviere verkort word.
Die Funduro word gehou ten bate van Hoërskool Hopefield se projek om vry van Eskom-krag te kom.
Sakeondernemings wat die dag moontlik gemaak het, is SPH Kundalila, Swartland Yamaha, Gelmar, DirtRider Motorcycles, Taverna Oceanis, The Food Message, Reko, Vredenburg Canopies & Accessories, AntCor, Ouma Marie Kombuis, Coastal Parts Vredenburg, SpecSavers en die Cape Salt Company West Coast, sowel as Kaap Agri, Yara, Kingsley en Ford Weskus.




