Hoewel vroue meestal in Suid-Afrika die slagoffers van geslagsgebaseerde geweld (GBV) is, loop mans ook deur.
Die Road Thunders-motorfietsklub van die Weskus het Sondag (21 April) by die Juffroushoogte-gasteplaas die begin van sy teengeweldprogram bekendgestel.
Die eerste stap was die saamstel van omgeepakkies wat aan die slagoffers van GBV in Saldanha gegee word. Die pakkies sluit toiletbenodigdhede en onderklere in.
Volgens Gert Venter, president van die Road Thunders, dra die inhoud van die omgeepakkies daartoe by dat die slagoffers ten minste net weer vroulik en skoon kan voel ná ’n voorval van geweld.
Die klub is besig om ’n perseel te verkry waar ook terapeutiese hulp aangebied sal word.
Kol. Lindie Marx, bevelvoerder van die Vredenburg-polisiekantoor, het gesê die polisie waardeer inisiatiewe soos die omgeepakkies baie. Sy het ook die motorfietsklub bedank vir sy bereidwilligheid om in te klim en daadwerklik te help.
William Munnik, ’n polisieman van Redelinghuys en lid van die Road Thunders, het in ’n openhartige toespraak ook die lig op kindermishandeling geplaas – iets waarvan hy self ’n slagoffer was.
Verder het lede die motorfietsklubs wat die geleentheid kom ondersteun het meegeding in ’n dobbelsteenspeletjie en op wyn gebie.
Die motorfietsentoesiaste kon die heerlike sonnige weer onder die sonsambrele geniet terwyl die fluweelstem van Just Aiden hulle met musiek van reggae tot Billy Idol vermaak het.





