Twee Weskussers is Saterdagnag deur die vier mans aan wie hulle ’n saamrygeleentheid gegee het, gekaap.
Die bestuurder (67) van ’n silwer Ford Focus en sy passasier (49) was Saterdagnag 25 Maart op die Vredenburg-Velddrifpad in die rigting van Velddrif onderweg toe die voorval plaasgevind het.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder in die Weskus-polisiedistrik, is vier rylopers opgelaai.
Hulle het die bestuurder naby die St. Helenabaai-oorgang met ’n mes in die rug gewond en hom en die passasier met vuurwapens oor die kop geslaan.
“Die bestuurder het daarin geslaag om stil te hou, waarna hy en die ander slagoffer die geleentheid gekry het om weg te kom. Die verdagtes het met die motor weggery,” het Helfrich verduidelik.
Die uitgebrande wrak van die Ford Focus is Maandagoggend (27 Maart) in Tugelastraat in Witteklip, Vredenburg, aangetref.
Die vier wielvellings (rims) van die motor is verwyder en reeds die vorige aand deur die polisie teruggevind.
Dit is Sondagaand laat (26 Maart; omstreeks 23:50) agter op ’n bakkie in Houtkapperstraat opgemerk.
Die bestuurder van die bakkie (46) is deur die polisie ondervra en volgens kapt. Helfrich het hy aan die polisie gesê hy het die wielvellings by ’n vriend in Lysterstraat gekry.
Die polisie en die bakkiebestuurder het daarna na die genoemde adres vertrek, maar die bestuurder het egter in Lysterstraat uit sy voertuig gespring en weggehardloop, met die wielvellings steeds agter op die bak.
Die man het Maandag sy bakkie by die Vredenburg-polisiekantoor gaan soek, waar hy in hegtenis geneem is vir die besit van vermoedelik gesteelde goedere.
Hy sal eersdaags in die Vredenburg-landdroshof verskyn.
Pogings om met die slagoffers vir kommentaar te skakel, was teen druktyd onsuksesvol.
Enigiemand met inligting oor die kaping en wat die polisie kan help om die ondersoek te bespoedig, word vriendelik versoek om met sers.
Dina Miggel van die Vredenburg-polisie by 022 703 6464 in verbinding te tree.




