’n Vrou van Malmesbury, wat reeds weens ’n moord in 2016 aangekla word, is die afgelope naweek wéér in hegtenis geneem – dié keer omdat sy na bewering probeer het om ’n 20-jarige vrou dood te steek.

Shernay Lottering (23), bekend as “Nykie”, het Maandag 2 Oktober in die landdroshof in Malmesbury op aanklag van poging tot moord verskyn.

Volgens die polisiewoordvoerder kapt. Tania Hellfrich is dit nog onduidelik waarom Lottering die slagoffer Donderdag 28 September om 18:00 na bewering aangeval het.

Lottering was 16 jaar oud in 2016 toe sy en nog vier minderjarige meisies tussen 15 en 18 jaar oud van die moord op David Tenn, ’n 45-jarige man van dié dorp, aangekla is.

Hy het volgens ooggetuies Saterdag 5 November op die trappies voor Elvina’s Tavern in Wesbank gesit toe die meisies hom aangeval en met messe gesteek het.

Die meisies is aanvanklik van ernstige aanranding aangekla toe hulle Vrydag 11 November in hegtenis geneem is, maar die aanklag is ná Tenn se dood op Sondag 13 November na moord verander. Hy was ná die aanval tot met sy dood in ’n koma in die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad.

Die meisies is in die sorg van hul ouers vrygelaat en dié hofsaak duur steeds voort. Lottering se mede-beskuldigdes behoort nou tussen 22 en 25 jaar oud te wees.

Die 20-jarige slagoffer wat die naweek aangeval is, het veelvuldige meswonde aan haar liggaam en gesig opgedoen, en sterk in die hospitaal aan.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article