’n Moordbeskuldigde van Vredenburg, wat daarvan verdink word dat hy ’n 27-jarige man in 2013 vermoor en sy lyk in ’n oop stuk veld by Louwville, Vredenburg gelos het, is vandeesweek vir nóg ’n moord in hegtenis geneem.

Xolisa Booi (28) het Maandag (23 Oktober) in die Vredenburg-landdroshof verskyn op aanklag van moord nadat ’n vermeende aanvaller op sy erf dood is.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder, het Booi Sondagoggend met ’n onbekende man in sy erf gestoei. Booi het na bewering omstreeks 06:50 gaan kyk wat aangaan nadat hy ’n geraas by die losstaande geboutjie op sy erf, waar sy meisie woon, gehoor het.

Hy het ’n onbekende man met ’n mes by sy meisie gesien en het tussenbeide getree. Die onbekende man het Booi met die mes in die hand gesteek, waarop Booi die man probeer wegsleep het. In die proses het die oorledene met sy kop op ’n yster geval, wat sy dood veroorsaak het.

Booi staan steeds tereg op die 2013-moord van die 27-jarige man wie se lyk in ’n oop stuk veld naby die Suidelike Deurweg tussen Louwville en George Kerridge gevind is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article