Cashwill Jooste (32) is Saterdagaand in Adelaarstraat, Witteklip, doodgesteek. Na bewering het hy en Wilbur Rudolf (22) begin stry oor Rudolf se foon, waarna ’n?struweling ontstaan het. Jooste is in die bors gesteek en het uit die erf gehardloop. Hy het in die straat inmekaargesak en gesterf. Rudolf het Maandag in die Vredenburg-landdroshof op aanklag van moord verskyn.
Die Vredenburg-polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord nadat verskeie skote Sondagaand (7 April) in Maraboestraat, Louwville, op ’n 28-jarige man geskiet is. Die man is nie in die koeëlreën beseer nie.
Dimitri Senosky (27) is Sondagmiddag in hegtenis geneem nadat hy glo koppies en borde in die straat stukkend gegooi het. Sy 71-jarige ma het nog probeer om hom te laat ophou toe sy opmerk dat hy sy 60-jarige oom aangerand en die houthuisie agter in die erf, waar sy oom bly, aan die brand gesteek het. Senosky het Dinsdag in die Vredenburg-landdroshof verskyn op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, opsetlike saakbeskadiging en brandstigting.
Twee klagtes van sakeroof is Sondag by ondernemings in Riebeek-Wes ’n paar strate van mekaar af aangemeld. Hoewel die polisie vermoed dit is dieselfde groep rowers wat die ondernemings beroof het, sal die ondersoek bepaal of dit bewys kan word. Die eerste rooftog het omstreeks 18:25 plaasgevind. Drie mans – een met ’n vuurwapen – het ’n 33-jarige sakeman oorval. Die rowers het die winkel binnegekom en oomblikke daarna die deur agter hulle toegemaak en geld geëis. Die sakeman het egter geweier om vir hulle geld te gee, waarop die rowers gedreig het om hom te skiet. Hy het toe R15 000 aan hulle oorhandig, waarna hulle te voet gevlug het.
Kort hierna, omstreeks 18:40, is ’n 30-jarige sakeman ook deur drie rowers oorval van wie een ook met ’n vuurwapen gewapen was, en die ander twee met messe. Hulle het ook die winkel ingekom, die deur agter hulle toegemaak en die sakeman beveel om op die grond te lê. Sy hande is vasgebind en die rowers het met R4 000 en die sakeman se selfoon op die vlug geslaan.
Iewers tussen die einde van sake-bedrywighede Vrydag en Saterdagoggend met oopmaaktyd is ’n wegneemete-plek in Diazweg, Saldanha, se vertoonvenster beskadig. Die skade beloop sowat R1 000. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.


