Elton Lesch by die monument in Paternoster.Foto: Noluvu Ludidi


Ter herinnering aan die vissermanne wat hul lewe ter see verloor het, is ’n vissersgedenkmonument by die waterfront in Paternoster opgerig.

Hierdie kunswerk is deur die plaaslike kunstenaar Elton Lesch gemaak en is op Vrydag 12 April aan die publiek bekend gestel.

Baie inwoners beskou dit as ’n geskiedkundige oomblik en heg baie sentimentele waarde daaraan.

Tydens die onthullingseremonie het Lesch gesê hy kom self uit ’n familie van vissers. Hoewel hy nie in die vissermanne se spore gevolg het nie, onthou hy altyd dié wat hul lewe verloor het en dié wat nog nie gevind is nie. Soos baie visserfamilies is daar die onsekerheid of hul geliefdes sal terugkeer huis toe nadat hulle op die waters uit was.

“Dit is ’n droom wat vir my waar geword het. Ek het altyd gesê dat daar nêrens ’n plek is waar mense hul geliefdes kan vereer wat ter see omgekom het nie,” vertel Lesch.

Daar is besluit om die monument waar mense hul geliefdes kan gedenk in Paternoster op te rig.

Lesch verduidelik die vis in die monument verteenwoordig die doel van die lewe van ’n visserman, om vis te vang en te voorsien vir sy gesin, terwyl die drie pilare die vissermanne se geloof verteenwoordig, wat insluit die Vader, Seun en Heilige Gees wat hulle ter see nodig het. Die rots-basis verteenwoordig hul krag en Khoi-erfenis.

Lesch beskou kuns as ’n manier van genesing en ’n gawe wat die Here vir hom gegee het en wat hy met ander deel. Hy moedig besoekers aan om die monument te besoek en ’n skulp neer te lê wat die lewe van elke visserman simboliseer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article