’n Blye dag in die Bergrivier was Vrydag toe die Bergrivier-monding amptelik as ’n Ramsar-gebied bekend gestel is. Foto: Yaël Malgas


Een aarde, een Weskus en net een Bergrivier-monding.

Die Weskus se bekende Bergrivier-monding is nou amptelik ’n Ramsar-gebied. Dr. Razeena Omar, uitvoerende direkteur van CapeNature, meen die bevestiging daarvan is ’n droom van die gemeenskap, wetgewers en omgewingsbewaarders wat waar geword het.

Danksy dié Ramsar-verklaring geniet die Bergrivier nou internasionale bewaringstatus. Alan Winde, die premier, het op sy beurt die belangrikheid van ’n balans tussen ekonomiese ontwikkeling en bewaring uitgelig.

“Bewaring is belangrik, want ons weet klimaatsverandering het ’n groot uitwerking, veral hier in die Weskus. Maar terselfdertyd moet ’n balans bestaan om armoede deur werkskepping te verlig. Hier is dit ’n geval waar die bewaring [ekonomiese] waarde aan die rivier deur toerisme kan gee,” meen Winde.

Die viering van die Rasmar-verklaring vind tydens Omgewingsmaand plaas. Die fokus van die maand is om bewaring by Jan Alleman aan te wakker en volgens Anton Bredell, die LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkeling, moet die Weskus-gemeenskap dus inkoop in die belangrikheid van die Bergrivier en die riviermonding se bewaring.

“Die bestuur van watergehalte kan net plaasvind as ons die inkoop van die gemeenskap, regering, nywerhede en landbou almal saam het. Dit is van kardinale belang dat die gemeenskap saamwerk, en dit kan net gebeur wanneer hulle geleenthede kry. Dit kan nooit die omgewing óf die ekonomie wees nie – dit is die omgewing se rol binne die ekonomie wat ons vorentoe gaan neem,” meen Bredell.

Die Bergrivier-forum is juis so ’n platform waar belanghebbendes uit verskeie oorde saamwerk om na die riviermonding om te sien.

Jan Marx, ’n lid van dié forum, sê monitering van die Bergrivier gaan voortaan nog belangriker wees. “Die soutpanne skep werk vir die plaaslike gemeenskap en die vissers is baie afhanklik van die ekostelsel, en dan is daar ook die boere verder op [die rivier] wat die water vir besproeiing benut.

“Al hoe meer druk gaan op die ekostelsel toegepas word en op daardie gebied is dit belangrik om na die gesondheid van die riviermonding om te sien. In die langtermyn gaan goeie moniteringstelsels baie belangrik wees,” sê Marx, wat ook voorsitter van die St. Helenabaai-watergehaltetrust is.

Ray van Rooy, die burgemeester van Bergrivier-munisipaliteit, het beloof die munisipaliteit sal saamwerk om die bewaring sowel as die ekonomiese geleenthede van die riviermonding te ontwikkel.

Voorstelle vir inheemse toergidse en ’n fokus op besoekende voëlkykers was net van die toerisme- en ekonomiese geleenthede wat voorgestel is.

Deel van die 61 km² groot riviermonding se besonderse ekostelsel is 127 watervoëlspesies asook steenbras en stompneus wat hier aangetref word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article