Dit is weer daardie tyd van die jaar wanneer produkverskaffers en finansiële raadgewers (ja, ons ook) hul bes probeer om jou te oortuig om in uittree-annuïteite en belastingvrye spaarplanne te belê.

Die voordele van ’n belastingvrye spaarplan is voor die hand liggend. Doen dit net – jy gaan nie spyt wees nie:. Jy betaal geen belasting op rente-verdienste nie. . Geen kapitaalwinsbelasting is op groei betaalbaar nie.. Jy kan enige tyd onttrek, met ander woorde jou kapitaal is likied.

(Bydraes tot belastingvrye spaarplanne word tot R36 000 per jaar beperk met ’n lewenslange totale bydrae van R500 000.)

Bydraes tot uittree-annuïteite verg ’n bietjie meer dinkwerk. Die grootste voordeel is jy spaar met voorbelaste geld. Indien jou marginale belastingkoers 40% beloop, “kos” dit jou net R600 om R1 000 te spaar. Benewens die belastingbesparing, is geen inkomste- of kapitaalwinsbelasting in die portefeulje betaalbaar nie. Indien jy aftree, is belasting moontlik betaalbaar as jy die belastingvrye perke oorskry.

Bydraes tot aftreefondse kan van belasting afgetrek word. Aftrekkings word tot 27,5% van jou verdienste beperk, met ’n maksimum van R350 000 per jaar.

Vir diegene met groot boedels is uittree-annuïteite een van die instrumente wat gebruik kan word om jou boedel kleiner te maak, aangesien die opbrengs van uittree-annuïteite buite jou boedel val.

Die opbrengs is ook onmiddellik ná jou dood vir begunstigdes (erfgename) beskikbaar.

Die beskikbaarheid van die opbrengs ná dood is ’n gerusstellende voordeel vir langslewende gades aangesien die afhandeling van boedels deesdae dikwels 18 maande of langer neem.

Een van die argumente wat dikwels gebruik word om die dienlikheid van uittree-annuïteite as besparingsmiddel te bevraagteken, is die vereiste dat uittree-annuïteite aan Regulasie 28 van die Pensioenwet moet voldoen.

Die regulasie stel ’n maksimum perk vir aandele- en buitelandse blootstelling.

Die beswaar was dat die groeipotensiaal van uittree-annuïteite as gevolg vir aggressiewe beleggers hiervan beperk word.

Met die vorige begroting is die perk op buitelandse blootstelling egter van 30% tot 45% verhoog. Indien jou marginale koers 45% beloop en jy die belastingbesparing buitelands belê, is dit met ander woorde nou moontlik om tot 90% van jou bydraes in die buiteland te belê.

Die blootstelling tot aandele word steeds deur Regulasie 28 tot 75% beperk.

Indien jy weer eens jou besparing herbelê, is dit duidelik dat jy tot 100% blootstelling kan kry indien jou marginale koers 25% of hoër is.

Is uittree-annuïteite vir almal bedoel?

Waarskynlik nie.

Die opbrengs is eers vanaf ouderdom 55 beskikbaar. Die produk is dus gemik op aftrede en nie vir korttermynspaarbehoeftes bedoel nie.

Indien jy ouer as 55 is, is likiditeit nie ’n probleem nie. Jy het onmiddellik toegang tot die opbrengs. Indien die waarde minder as R247 500 is, kan jy die volle waarde as ’n enkelbedrag neem. Vir diegene ouer as 55 bied uittree-annuïteite dus ’n baie interessante geleentheid vir inkomstebelastingbeplanning.. Jac van der Spuy is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner by PSG Wealth. E-pos hom gerus by jac@psg.co.za.. Die inligting in hierdie artikel is algemene inligting. Dit is nie finansiële, belasting-, regs- of beleggingsadvies nie en die maatskappye in die PSG Konsult Groep waarborg nie die geskiktheid of potensiële waarde daarvan nie. Aangesien individuele behoeftes en risikoprofiele verskil, stel ons voor dat jy jou gekwalifiseerde finansiële adviseur raadpleeg indien nodig. PSG Wealth Financial Planning (Pty) Ltd is ’n gemagtigde finansiële diensverskaffer (FDV 728).

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article