Dit is geensins ’n verrassing dat misdaad jaarliks in die aanloop tot die feestyd hoogty vier nie.

Dié realiteit is inteendeel Dinsdagoggend opnuut by Weskussers in Vredenburg aangewakker toe skote vroegoggend in die dorp se hoofstraat geklap het nadat gewapende rowers op ’n bekende groothandelwinkel toegesak het.

Die flink optrede van die plaaslike polisie het drie van die vermeende rowers vinnig in die vangwa gehad terwyl twee van die toneel af gevlug het. Ondanks die jongste voorval loop die middedorp behoorlik deur met een klerewinkel wat bykans weekliks nou die slagoffer van diefstal word. So ook word mense van hul selfone en geld besteel, dikwels sonder dat hulle dit op daardie tydstip besef en dit eers later agterkom, aangesien misdadigers hul kuns verfyn het.

Die feestyd is ’n seisoen vir samesyn, lekker lag en ’n bietjie wegbreek, maar dit is juis omdat mense hulle gewoonlik in ’n ligter luim bevind dat misdadigers dikwels kanse benut om mense uit te buit omdat hulle nie noodwendig so paraat soos altyd is nie.

Geniet die feestyd, maar moenie nalatig wees nie. Maak seker jou vensters is op knip en die deure gesluit – hetsy by jou huis of in jou motor – wanneer jy dit verlaat; moenie met jou beursie en selfoon in sig rondloop nie.

Kom ons doen ons deel om die feestyd ’n veilige seisoen vir ons en ons geliefdes te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article