Jy wil met ’n dieet begin, of miskien net gesonder eet. Jy dink daaraan om te begin oefen al is dit net matig stap. Jy wil graag ’n vriendin of familielid kontak van wie jy lanklaas gehoor het, of jy wil van werk verander of begin werk soek. Jy wil begin skryf, dans, sing; dit was nog altyd jou droom.
Maar jy gaan die naweek bel, want jy pay tog eers Vrydag, of jy wil die eerste van die nuwe maand begin gesond eet, want saam met die nuwe maand wil jy mos ’n nuwe begin maak. Jy wag net vir die somer, want in die winter is dit te koud om vroeg op te staan. Of nie nou in die lente nie, want ai, die allergieë as jy buite stap. En boonop is jy nie nou in die regte bui nie, jy is nog te kwaad of ongelukkig om met die vriendin te praat van wie jy lanklaas gehoor het.
Of netnou dink hulle jy kan nie sing nie, so jy wag maar nog ’n jaar voor jy vir ’n oudisie gaan. Voeg daarby jy het nie nou tyd nie en beslis ook nie die geld nie. Nee, nou is nie perfek nie, die regte tyd daarvoor sal aanbreek, of so glo ons. Elke dag maak ons keuses en neem ons besluite oor die een of ander saak. Moet ek praat of moet ek eerder stilbly? Sal ek gaan of moet ek liewer bly? Kan ek dit koop of moet ek liewer eers wag?
Sommige van ons sal redeneer daar is ’n tyd vir alles. Maar ons weet ook dat ons baie keer spyt is omdat dit te laat geword het, want ons het gewag – gewag vir die regte tyd. Die regte tyd wanneer dinge gunstig is. Ons weet dat tyd beperk is, dit is kosbaar, dis iets wat nie teruggekry kan word as dit eers verby is nie.
Ons stel so baie uit omdat ons bang is, ons selfvertroue ontbreek, ons vrees vir mislukking, daar is onsekerheid, ons het nie genoeg hulpbronne nie. Tot ons later besef dat ons toe nooit daarby uitgekom het nie, ons het dit vir altyd uitgestel. Daarom, moenie dink nie, doen net. Daar is geen perfekte oomblik nie, die regte tyd is ’n lugspieëling.
Moenie wag tot die reën bedaar sodat jy kan dans nie – dans in die reën. As jy 100% passievol oor iets is en jy wil sukses behaal of jy is lus om iets te doen, begin vandag daaraan werk. Kom uit jou gemaksone en maak werk van jou droom, jou verskoning, jou vergifnis, jou soeke na werk, die oproep. Dink aan die hoeveelheid tyd wat jy reeds gemors het omdat jy gewag het vir die regte tyd.
Waag ’n sprong in die donker; daar sal risiko’s wees, maar jy moet dit aanvaar en dit steeds waag. Begin waar jy is en met wat jy het. Neem die eerste stap, moenie struikel nie. Jy kan net misluk of slaag, maar jy sal ’n belangrike ding opdoen – ervaring, iets waaruit jy kan leer.
Onthou, daar sal altyd faktore en mense by besluite en keuses betrokke wees, niks is regtig binne ons beheer nie. Maar moenie by die eerste moeilikheid of doringdraad stop nie, moenie opgee by die eerste uitdaging nie. Dalk sal jy iets moet oordoen, maar die oplossings vir die haakplekke sal jy langs die pad kry. Ek sê nie dat ons nie die voor- en nadele van ’n keuse of besluit moet opweeg nie. Maar onthou selfs as jy dit doen, kan dinge steeds verkeerd gaan. Daar is geen waarborge nie. En as ons te lank talm om ’n besluit te neem, word die besluit later namens ons geneem.
Daar is ook kere wanneer ons iets uitstel omdat iets anders onverwags gebeur het. Dit is te verstane, maar moenie dat jou môre uitgestel word tot oormôre of volgende week nie, want as jy jou oë uitvee, is die tyd verstreke. Ons kan ook nie alles doen wat ons graag wil doen nie. Jy kan byvoorbeeld nie nou besluit jy wou nog altyd by ’n leeuhok instap, vandag is die dag daarvoor nie. Daar is beperkings, maar niks is oorkombaar nie.
As ons werklik gemotiveerd is om iets te doen, sal ons dit ten alle koste doen. Ons sal daarin slaag om tyd en die nodige middele te vind. Waar ’n wil is, is ’n weg. Moenie dat tyd of verskonings jou gevange hou om te doen wat jy graag wil nie. Gryp die dag. Vandag is ’n wonderlike dag om te begin. Die regte oomblik is nou en die persoon is jy. Nou is die tyd, dis dalk die enigste tyd wat jy het.





