’n Bekende gesegde lui alles met ’n “te” by, is nie goed nie, behalwe tevrede. Dit laat my dink aan die gediggie van A.G. Visser wat ons op skool geleer het:
In die Sondagskool
‘Ja, veertig dae agtereen
En veertig nagte lank gereën!
Dis ’n rekord tot op hede.’
‘Meneer, mag ek Meneer iets vra?’
‘Maar alte seker, Japie, Ja?’
‘Was die boere toe tevrede?’
As ons na die nuus kyk, lyk dit of tevredenheid deesdae maar dun gesaai is.
Mense kla of betoog voortdurend oor iets; altyd iemand wat op een of ander wyse verontreg voel of oor iets ontevrede is.
Dit lyk my hoe meer regte ons kry, hoe meer het ons waaroor ons ontevrede kan wees.
Miskien het ons in die tyd voordat ons so baie regte gehad het, nie geweet ons kon van iemand verwag om dit vir ons te voorsien nie en het ons dalk self ’n plan gemaak.
Clem Sunter het op ’n tyd gesê die beste helpende hand wat jy ooit sal kry, sit aan die einde van jou eie arm.
Ek is terdeë daarvan bewus dat die mense wat swaarkry as gevolg van swak dienslewering en daaroor betoog, goeie rede vir hul optrede het. Niemand van ons wil ons heeldag oor die veiligheid van ons kinders bekommer en of die water in ons krane veilig is om te drink nie, ens.
Aan die ander kant skuil daar ook die gevaar van ’n pessimistiese lewensuitkyk as ons voortdurend fokus op alles wat verkeerd is. Die Engelse sê: “Beauty lies in the eye of the beholder”, d.w.s. hoe jy iets beleef, word grootliks bepaal deur jou eie sienswyse of lewensuitkyk.
Ek onthou die verhaal van twee bemarkers wat na ’n afgeleë gebied gestuur is om skoene daar te gaan verkoop. Daar gekom, ontdek hulle dat niemand daar skoene dra nie. Hulle stuur toe elkeen ’n boodskap vir hul werkgewer. Die een se boodskap was “hier gaan ons geen skoene verkoop nie, want die mense hier dra nie skoene nie”. Die ander se boodskap was dat hier ’n groot geleentheid is om skoene te verkoop, want hier is nog niemand wat skoene dra nie. Dieselfde situasie, maar verskillende sienings daaroor.
Tevredenheid spruit voort uit ’n gesindheid van dankbaarheid vir wat jy wel het. Niemand het ooit alles wat hy of sy graag sal wil hê nie. Ons vergelyk ons altyd met mense wat meer as ons van iets het, en bitter selde met dié wat minder as ons het.
Ons moet onthou die gras lyk altyd groener aan die ander kant van die draad. Iemand met ’n blink motor het dalk ’n sieklike kind of ouer waarvan jy nie weet nie, of die hoof van die gesin met die mooi huis het dalk sy werk verloor en lê snags wakker oor hoe lank hy nog ’n dak oor sy kop gaan hê.
Tog lyk dit my wanneer mense deur werklik groot rampe, soos die onlangse vloed in KZN, getref word, hulle anders reageer. Een man het op ’n nuusvideo gesê: “I got nowhere to go now. I got no house, no nothing. The situation is very, very bad. I don’t know where I’m going to sleep now.”
Tog sien ek niemand is aan die betoog nie. Mense is verslae, ja, maar hulle steek hul hande uit en begin opruim en herstel.
Miskien kan ons iets leer uit Paulus se gesindheid in Filippense 4:11-12 volgens Die Boodskap-vertaling: “Die lewe het my al geleer om klaar te kom met wat ek het, maak nie saak wat gebeur nie. Ek weet hoe dit voel om arm – nee, brandarm – te wees, maar ek weet ook hoe dit voel om genoeg of selfs te veel geld te hê. Maar ek laat nie toe dat sulke dinge my onderkry of met my weghardloop nie. Ek is en bly altyd tevrede, wat my ook al tref. Dit maak nie saak of ek sonder ’n krieseltjie kos gaan slaap of soveel kos het dat ek dit nie kan opeet nie. Of ek net die klere aan my lyf het en of ek ’n huis vol goed op my naam het, vir my is dit eintlik maar om’t ewe.”
*David Malherbe is ’n vryskutskrywer van Langebaan.



