Alles raak nou baie duur – kos, klere, krag en veral brandstof. Die tye is taai en Weskussers draai al lankal hul sente om, maar verbruikers moet maar weet die chaos wat tans in die wêreld heers, is nie goeie nuus vir ons sakke nie. Om net maandeliks jou ligte aan te hou kos Jan Alleman (die oorgrote meerderheid van ons) ’n arm en ’n been. En dan is daar die frustrasie van beurtkrag.

’n Klomp slegte nuus, maar daar is wel ’n positiewe kant aan dit alles. Die mensdom is aanpasbaar en geskiedenis het bewys innovering en groei vind juis in moeilike tye plaas. Ons groei nie juis in ons gemaksone nie.

Dit is tyd om uit die boks te dink om ons begrotings te laat klop en om nuwe besigheidsgeleenthede te skep. Om dus ’n sonpaneelstelsel by jou huis te installeer, is ’n duur eenmalige uitgawe, maar kan jou baie geld oor die lang termyn spaar. Maak net seker die munisipaliteit stuur nie vir jou ’n rekening van derduisende rande terwyl jy nie eers van hul krag gebruik maak nie. Lees gerus op die voorblad van Theuns Erasmus se dilemma.

Met die styging van kospryse sien ons ook dat misdaad styg. Armoede vererger en meer mense wend hulle tot diefstal en huisbraak. Darling-polisie het vandeesweek weer twee mans met ’n vermoedelik gesteelde Eskom-koperkabel betrap (bl. 6). Maar misdaad haal ’n mens altyd in – selfs al het jy dit gepleeg omdat jy honger was. Vra eerder vir hulp voor jy steel. As jy geseën is met ’n goeie inkomste, oorweeg om die Paasnaweek ’n maaltyd aan ’n behoeftige gesin te voorsien.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article